NATIONAL NEWS - Terwyl ’n menigte joernaliste en fotograwe deurnag buite die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria gewag het op Oscar Pistorius se vrylating, het die Departement van Korrektiewe Dienste kort voor 09:00 Vrydag aangekondig dat hy reeds tuis is.
Daar was egter geen beweging by die Waterkloof-huis van sy oom Arnold Pistorius in wie se sorg hy vrygelaat is nie.
Die polisie het ’n vinnige draai by die huis gemaak, maar wou nie aan die media bevestig of Pistorius wel tuis is nie.
Lede van die media het reeds Donderdag by die Atteridge-gevangenis opgedaag om die historiese oomblik vas te lê wanneer Pistorius by die tronkdeur uitstap, maar moes ongedaner sake omdraai.
Op X is bespiegel dat hy Vrydag om 01:00 uit die Baviaanspoort-korrektiewe sentrum vrygelaat is waar hy sedert Dinsdag aangehou was.
June Steenkamp, die ma van Reeva vir wie se moord Pistorius agt jaar tronkstraf uitgedien het, sê in ’n verklaring hoewel Pistorius se vrylating op parool haar geloof in die regstelsel bevestig het, is diegene wat ná haar dogter se dood agtergebly het lewenslange gevangenes van die moord.
“Daar kan nooit geregtigheid wees as jou geliefde nie terugkom nie, en geen hoeveelheid tyd sal Reeva terugbring nie. Ons wat agterbly, is diegene wat lewenslange tronkstraf uitdien.”
‘Oscar sal ’n baie goeie afrigter wees’
Netwerk24 berig die voormalige Olimpiese atleet LJ van Zyl en Pistorius het planne om weer saam te oefen. Van Zyl het die lemnaler gereeld in die gevangenis besoek. “Hy het dit baie gemis om te oefen. Hy kon nooit sy lemme aantrek en oefen soos hy gewoond was nie.”
Van Zyl meen Pistorius kan ’n groot bydrae in die ontwikkeling van atletiek lewer. “Hy sal ’n baie goeie afrigter wees.”
Facebook-gebruikers het oorwegend hulle ondersteuning vir Pistorius uitgespreek. “Hy kan waardevol wees vir ons atletiek en vir ons atlete. Hy het sy straf uitgedien; nou verdien hy weer sy plekkie in die son,” sê Anet Bester.
“Hy het talente ontvang, en as sy afrigter se hart op die regte plek is, kan dit weer ontwikkel. Gaan voluit, Oscar,” sê Rika Marais. “God se liefde en genade is groot; bewys jouself tot eer van sy Naam. Leef dag tot dag; gister is verby. Oordeel kom niemand toe nie.”
“Ek sal vir seker nie dat hy my kind of enigeen van my familielede afrig nie,” laat Liza-mari Esterhuyze von Schauroth hoor. “Daar is baie atlete wat ’n beter voorbeeld vir ons jeug en samelewing kan wees. Hoe moet ons opkyk na iemand wat moord pleeg? Hy kan niemand iets positiefs leer nie.”
Pistorius is op streng paroolvoorwaardes vrygelaat. Hy moet gemeenskapdiens verrig, mag nie drank gebruik of onderhoude aan die media toestaan nie. Hy mag ook nie die Pretoriase rykmansbuurt Waterkloof sonder toestemming verlaat nie.
Sy parool geld tot 5 Desember 2029.
Lees die oorspronklike berig: OFM Nuus
Article: Caxton publication, Bloemfontein Courant
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’