MOSSELBAAI NUUS - Kom ontmoet die televisiepersoonlikheid Ivor Price en die kinders van AbbAsorg-Boskabouters hierdie Saterdag by Langeberg Mall op Mosselbaai.
Price is in die Tuinroete om die afskop van die ATKV se nuwe, landswye #helponsdroom-veldtog te vier, ten bate van die ATKV-AbbAsorg-crèches.
Hierdie vyf leersentrums, waarvan twee in die Mosselbaai-omgewing is, maak ‘n ontsaglike bydrae tot die stabiliteit van ons gemeenskap deur gehalte-opvoeding te verskaf in die vormingsjare van jong kinders wat dit nie andersins sou kon bekostig nie.
Volgens Herna Adams, AbbAsorg se nasionale koördineerder, beklemtoon die #helponsdroom-veldtog die breër maatskaplike waarde van AbbAsorg se werk in vroeëkindontwikkeling. AbbAsorg is ’n inisiatief wat nie net die lewens van kinders en hul gesinne verander nie, maar ook stabiliteit in verskillende gemeenskappe help bring.
Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, sê ’n skenking vir AbbAsorg is soveel meer as net ’n skenking in die lewe van die meer as 220 kinders wat elke dag gehelp word.
Hy sê: “’n Skenking vir AbbAsorg is ’n belegging in jou eie lewensgehalte. AbbAsorg is ’n intervensie met ’n vermenigvuldigende impak op die gemeenskappe wat dit bedien. Deur ’n verskil te maak in hierdie fase van kognitiewe, fisiese en sosiale ontwikkeling van kinders gee die projek nie net aan elke kind ’n reënboog van bykomende moontlikhede vir sy/haar eie toekoms nie.”
Die doelwit van #helponsdroom is om R500 000 landwyd in te samel, sodat AbbAsorg beter in staat sal wees om die lewens van kinders te verbeter, en so ook die welstand van die gemeenskap.
Daar is ‘n verskeidenheid skenkingsopsies, wat insluit:
- Besoekers kan Saterdag by Langeberg Mall skenk;
- Ondersteun ‘n ‘crowd-funding’-veldtog op Backabuddy.
- SMS “AbbAsorg”, jou naam en die bedrag wat jy wil skenk na 44733 (Standaardtariewe geld), of
- Maak die ATKV die begunstigde op jou MySchool-kaart.
AbbAsorg is ’n niewinsgewende organisasie met Artikel 18A-status. Jou skenking of borgskap kan van belasting afgetrek word.
Kom ontmoet Ivor Price en die Boskabouters AbbAsorgkinders by Langeberg Mall om 12:00 Saterdag. Die Boskabouters-personeel sal beskikbaar wees om te gesels en donasies te ontvang van 10:00 to 14:00.
Kortweg:
- AbbAsorg mik om R500 000 in te samel vir sy vroeë kinderontwikkelingsentrums landwyd.
- AbbAsorg gee kos en opvoeding aan kinders van voorskoolse ouderdomme en verbreed hul sosiale vaardighede.
- Die organisasie bestuur 5 crèches in Suid-Afrika, waarvan 2 in die omgewing van Mosselbaai is. Meer as 220 kinders tussen 3 en 6 jaar oud word versorg.
- AbbAsorg help om die siklus van armoede en hopeloosheid te verbreek, en baat so die breër gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'