NATIONAL NEWS - Die wêreld kan vergaan, maar moenie met ’n Suid-Afrikaner se pap mors nie, veral nie ’n pap wat al die afgelope 64 jaar deur families aan hul geliefdes voorgesit word as ’n gesonde, smaaklike, proteïenryke ontbytpap nie. Selfs klein hondjies is daarop grootgemaak, maar nou, volgens een leser, wil nie eens hul hond aan die nuwe weergawe raak nie.
Grootskaalse oproer het uitgebreek nadat PepsiCo, die vervaardiger van die bekende Bokomo-handelsmerk ProNutro, die formule verander het en boonop gewilde geure soos Honey Melt en Wholewheat gestaak het.
Dit blyk daar is geen einde aan die openbare ontevredenheid oor die sogenaamde “onsmaaklike blaps” wat PepsiCo begaan het nie.
Op sosiale media platforms, televisie, radiostasies en in koerante gons dit voort, wat weereens bewys dat, ten spyte van Suid-Afrikaners se veerkragtigheid, daar wel grense is en PepsiCo dit klaarblyklik pas ontdek het.
ProNutro_SA het laat in April ’n openbare verskoning uitgereik en in ’n Instagram-plasing gesê: “Mzansi, ons is jammer. Ons het julle gehoor en hoewel ons nie die ou ProNutro kan terugbring nie, soek ons maniere om dit te verbeter. Ons wil julle vertroue terugwen.” (vertaal)
Volgens PepsiCo is die sogenaamde “nuwe generasie” ProNutro deur ’n nasionale verbruikerssmaaktoets geneem en is talle verbruikers die kans gegee om dit te proe voordat die produk op die mark bekend gestel is. Die maatskappy sê daar was “gemengde terugvoer”, maar het steeds besluit om voort te gaan.
PepsiCo voer verder aan dat die nuwe verpakking duidelik die verandering aandui, met die doel om deursigtigheid teenoor verbruikers te behou. Die maatskappy het ook verwys na verouderde en onbetroubare toerusting wat hulle genoop het om die resep te verander om produksiekwaliteit te beskerm. Volgens hulle is dit nie moontlik om na die ou masjinerie terug te keer nie, wat beteken ’n volledige terugkeer na die oorspronklike formule is nie haalbaar nie. Die nuwe formulering bevat volgens hulle aansienlik minder suiker, terwyl die kern plantgebaseerde voedingswaarde behoue bly.
Ten spyte van hierdie verduidelikings blyk dit dat die pap nou letterlik op die grond lê, met meeste verbruikers wat eenvoudig nie die nuwe status quo wil aanvaar nie.
Baie meen dat tensy die oorspronklike formule wat vir 64 jaar gewerk het teruggebring word, is dit klaar met die nuwe “sementpap”. Klagtes oor smaak, tekstuur en reuk oorheers die gesprek.
Tipies Suid-Afrikaans is daar reeds aanlyn grappe oor die smaakflop gemaak.
In reaksie op ProNutro SA se Instagram-plasing het ’n gebruiker, hermit_habitat, gesê: “Wat in die wêreld van ‘Soylent Green’ het julle met my ProNutro gedoen? Wanneer het ontbyt in ’n lae-begroting wetenskapsfiksie-eksperiment verander? Dit is nie graan nie, dit is ’n bewuste slym. Ek is opreg beledig namens my kinderjare en my smaakknoppies. Ongelukkig het julle pas ’n lojale kliënt vir altyd verloor.” (vertaal)
PepsiCo het intussen die produk van die rakke verwyder en sê hulle is terug na die tekenbord. Die vraag bly: sal Suid-Afrika hulle ooit vergewe?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’