NASIONALE NUUS - Jody Gabrielson was omstreeks 01:00 Sondag nog besig om televisie te kyk in sy huis in Ou Wapad in Ifafi, toe die oortreder oor sy muur gespring het.
“Hy het Jes, ons boerboel, wakker gemaak en ek het haar hoor blaf. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons hoe hy oor die muur klim, maar toe hy grond vat, toe is Jes by hom,” het Gabrielson gesê.
Die man het probeer wegkom van Jes en sy het hom die swembad ingejaag.
“Toe ek buite kom, sit sy op die rand van die swembad en knor vir die oortreder as hy beweeg. Toe ek haar roep toe spring hy uit die swembad en hardloop na ‘n muur tussen my en die bure. Wat hy nie geweet het nie, was dat daar ‘n paar pitbulls aan die anderkant gewag het. Hy het vinnig van plan verander en na my teruggedraai en met ‘n byl op my afgestorm.”
‘n Worsteling het ontstaan en Gabrielson se vrou het intussen die buurtwag en PWV Sekuriteit gekontak vir hulp.
Clive Fisher van die sekuriteitsmaatskappy was binne oomblikke op die toneel, met die buurtwag kort op sy hakke, en die oortreder is in hegtenis geneem. Huisbraaktoerusting is in sy besit gevind.
“Ek het aan die man gesê hy besef seker hy het nou by verkeerde plek probeer inbreek,” het Clive gesê.
Die oortreder is van betreding en besit van huisbraaktoerusting aangekla.
En Jes het ‘n biefstuk of twee gekry!