DE RUST NUUS - Drie mense wat in Oktober na 'n plaas buite De Rust verhuis het is Maandag deur 'n roofvoorval só getraumatiseer, dat hulle oppak en die plaas ontruim.
Volgens die plaaseienaar (20) en sy vriendin (18) was dit hulle droom om met voëls op die stuk grond wat hulle in 2016 gekoop het te boer, maar toe het vier mans met messe hulle droom in skerwe laat spat. Uit vrees vir vergelding het hulle gevra om anoniem te bly.
Volgens die jong vrou, het haar vriend Maandagmiddag net voor vyfuur De Rust toe gery om werkers af te laai.
Sy en haar broer (26) wat met die boerdery help, het televisie gekyk toe vier mans gewapen met lang messe, die vertrek binnestorm en geld eis.
"Die een met swart klere het my opgepluk en beveel om hom te wys waar al die waardevolle goed is, hy het ook begin om my te betas. Twee van hulle het my broer beveel om op die bank te bly sit." Volgens haar het hulle glo 'n pistool vir haar broer gewys.
"Ek het net gesmeek dat hulle ons nie moet seermaak nie en moet vat wat hulle wil hê."