GEORGE NUUS - John Minnie van MTO Forestry in George is 'n baie selfgemotiveerde vragmotorbestuurder wat met sy werkgewer se hulp as vanjaar se vragmotorbestuurder van die jaar aangewys is.
Die wedstryd om die beste bestuurder van die jaar te kroon, is in Oktober in die parkeerterrein van die Eden Meander in George aangebied.
John het in sy wenpoging 63 ander bestuurders uitgestof.
Hy was die wenner in die kategorie vir geartikuleerde vragmotors, asook die algehele wenner van die dag.
John het in 'n opvolgonderhoud aan Autodealer vertel dat sy leerproses met swaarvoertuie "al 'n hele paar jaar duur en seker nooit sal ophou nie".
"Ek het self my Kode 10-rybewys gekry danksy die hulp van 'n bestuurskool.
"Soos almal het ek maar met 'n kleiner vragmotor begin om die gevoel te kry voor ek swaarder voertuie begin bestuur het," sê John.
"Die belangrikheid van 'n professionele bestuurskool kan nie oorbeklemtoon word nie.
"'n Mens is geneig om die voertuig soos 'n motor te hanteer, maar die bestuurskool se deskundiges help jou reg."
Hy meen dit is moeiliker om met 'n vrag te bestuur as 'n bus met passasiers.
"Die passasiers weet darem hulle moet stilsit - 'n vrag kan dalk skuif en probleme veroorsaak," glimlag hy.
John neem sedert 2005 gereeld aan die Driver of the Year-wedstryd deel en sê hy het nog elke jaar heelwat geleer by die beoordelaars. Die kommentaar help jou om skerp te bly oor die padgedrag van ander bestuurders - jy bestuur nie net vir jouself nie, vertel hy.
"'n Mens moet boonop konsentreer en bewus wees van hoe 'n ander padgebruiker dalk iets kan doen wat jy nie verwag nie."
John vertel dat hy sand en gruis van sowat 20 ton tussen Mosselbaai en Knysna vervoer.
"Dit is op plekke 'n moeilike pad waar jy jou gedagtes by die pad moet bepaal.
"Die veranderinge in die spoedgrens moet heeltyd in gedagte gehou word, want 'n vragmotor met 'n vrag moet te alle tye onder beheer wees.
"Dit hou jou wakker en skerp, al ry jy die pad elke dag. Al ry jy net 30 km per uur het die vrag natuurlik momentum," sê hy.
Vra 'n mens John oor sy vragmotor, glimlag hy breed.
"Dit is 'n Volvo FL10 en ons ry twee-twee. Elke bestuurder het sy eie vragmotor waarvoor hy verantwoordelik is. Net soos 'n getroue perd, word die vragmotor natuurlik elke middag skoongemaak, want dit is elke bestuurder se eie verantwoordelikheid.
"Ek is lief vir my voertuig en sy naam is Nommer Sewe - geen ander naam nie.
"Dit was vir my 'n voorreg om aan die wedstryd te kon deelneem met my werkgewer se ondersteuning. Dit was 'n verrassing om te wen en ook vir my 'n groot eer.
"Die geesdriftige ondersteuning van die toeskouers was ook 'n ekstra kloppie op die skouer."
'n Baie opgewonde John Minnie
Die jaarlikse mededinging is vanjaar vir die 38ste keer aangebied en is iets waarop die bestuurders trots is. Hulle ding baie ernstig meet, het George se verkeershoof, Donovan Saptoe, gesê.
"Die kundigheid van hierdie bestuurders word dikwels onderskat. Ons dink die wenners vandag is werklik meesters in hul beroep."
"Padveiligheid is baie belangrik vir die munisipaliteit en hier het ons die geleentheid om verantwoordelike padgedrag aan te moedig en te erken."
Altesame 64 bestuurder van plaaslike logistieke maatskappye, openbare vervoer en die munisipaliteit het in vyf klasse meegeding: busse, paneelwaens, ongeartikuleerde vragmotors, geartikuleerde vragmotors en trekstang-voertuie. Punte is toegeken deur inspeksie, 'n padtoets en bestuurskundigheid (precision driving).
Die tweede pryswenner was Gerrit Saayman (busbestuurder) en Sarel Sampson van die George-munisipaliteit se vlootbestuurdiens was derde, asook die wenner in die ongeartikuleerde afdeling.
Gerrit Jansen van Moreki Solutions was die wenner in die paneelwa-klas en James Botha van Unitrans in die sleepstang-klas.
ARTIKEL: ANICA KRÜGER, GEORGE HERALD-JOERNALIS | AUTO DEALER REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'