MOTOR NUUS - Vir die motorbedryf het die jaar 2018 met 'n verkope-bloedbad begin. Verkope van nuwe voertuie het met 4 498 eenhede gedaal tot 45 888, terwyl verkope van nuwe passasiers-motors ook nie te waffers was nie.
In hierdie kategorie was die groottotaal van 32 642 'n hele 11,6% minder (4 266 eenhede) as in Januarie 2017.
Desondanks het markleiers soos Toyota (11 893) steeds goed gevaar danksy Hilux - weer die topverkoper met 2 695 eenhede - Corolla/Auris/Quest met 2 196 verkope en immergroen Fortuner op 1318. RAV (871) het ook goed gevaar.
Steeds in die tweede plek onder die toptien, na 'n kortstondige onttroning deur Ford in Desember verlede jaar, het Volkswagen op 7 070 verkope goed teruggeveg met Polo Vivo op 2 862, Golf 7 op 805 verkope, en die puik Tiguan op 438 verkope en 'n kortkop voor sy naaste teenstander, Hyundai se Tucson, waarvan 400 eenhede verkoop is.
Ford (4 869) bly oudergewoonte in die derde plek danksy Ranger op 2 489, EcoSport op 660 verkope en Figo op 619.
Kuga is stadig maar seker besig om terug te kom in die mark met 81 eenhede wat nuwe tuistes gevind het, terwyl 56 kopers hulle beursies vir die Mustang uitgehaal het.
Nissan (4 400) bly in die vierde plek danksy sy totale oorheersing van die sub-eentonnermark waar die NP200 op 1 585 verkope geskep het terwyl dit pap reën en niemand anders iets soortgelyks in die mark het nie.
Ander Nissan-sterre was GO (489), X-Trail op 353 verkope en NP300 op 597.
Navara, ondanks groot maar kortstondige mediageraas, het net 100 kopers se aandag getrek.
Hyundai staan sterk in die vyfde plek met 'n totaal van 2 897 wat gebou is op die reeds vermelde Tucson (400), Grand i10 op 1 134 verkope en Tucson se Creta-kleinboet het self puik gevaar met 380 verkope, terwyl die i20 altesame 317 nuwe tuistes gevind het.
Renault, wat in Desember negende was, het dramaties verbeter met 'n totaal van 1 929 - hoofsaaklik toe te skryf aan Sandero ll (325), Kwid met 664 verkope en Clio IV op 559.
Nommer sewe op die lys is BMW wat met 'n totaal van 1 856 verkope darem voor Mercedes-Benz (1 797) geplaas is. M-B gee nie individuele modelverkope deur nie.
Kia, wat in die negende plek is met (1 603) se toppresteerders is Rio (469), Sportage (168) en Motor van der Jaar-finalis Picanto op 'n gawe 793 eenhede wat nuwe eienaars gekry het.
Die laaste plek behoort aan die opkomende Isuzu wat totale verkope van 1 200 eenhede vir sy KB-reeks vermeld het.
Die Opel-handelsmerk, wat voorheen deel van GM/Isuzu Trucks was, het 216 verkope gehad.
En dan is daar die vervaardigers wat buite die toptien-lys staan, maar wat steeds buite verhouding goed presteer.
Hier word veral gedink aan Porsche se 99, Jaguar/Land Rover (506) en Peugeot (103) wat darem drie syfers gehaal het.
Mitsubishi behoort veel beter te doen as sy 190 totaal, terwyl Suzuki (742) hard sal moet werk om op die Desember totaal van 891 verkope te verbeter.
Ironies ook dat Volvo se 130 totaal swaar steun op sy uitstekende (en peperduur) XC90 wat na 34 nuwe eienaars gegaan het. Na verwagting sal die nuwe XC40 Volvo se vertoning dramaties ten goede beïnvloed.
Ondanks die swak maand, word verwag dat 2018 se verkope uiteindelik 2% beter sal wees as verlede jaar se syfers, terwyl uitvoere na verwagting op 366 050 eenhede te staan sal kom.
ARTIKEL: BERNARD K HELLBERG
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'