MOTOR NUUS - Die 22ste George-oumotorskou, trots ondersteun deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 10 en 11 Februarie plaas.
'n Uitstalling van sowat 40 Brits-vervaardigde voertuie sal in die hoofarena uitgestal word en vier van Karl Reitz van Knysna se Britse motors sal deel vorm van die uitstalling. Dit sluit 'n 1947 MG TC, 'n 1958 MG A, 'n 1928 3-liter Bentley en 'n 1916 Maxwell in.
"My belangstelling in veteraan- en noagmotors is geprikkel toe ek nog 'n jong seun was," vertel Karl, wat saam met sy vrou Tilly en hul kinders in Knysna woon.
"My ouers was van die pioniers van die veteraanmotor-beweging en was stigterlede van die Crank Handle Club in Kaapstad."
Karl se pa het in 1954 sy eerste motor opgebou. Dit was 'n 1916 Maxwell, wat hy by die oorspronklike eienaar van Darling in die Wes-Kaap gekry het. Die voertuig is steeds in die gesin se besit.
Volgens Karl is dié Amerikaanse voertuig gebou met die doel om as mededinger vir die Ford Model T te dien. "Die 1916 Maxwell is een van die oorspronklikste voertuie in Suid-Afrika en is al talle kere by die George-oumotorskou uitgestal."
Karl is ook die eienaar van 'n 1943 Willy's MB Jeep, wat sy pa jare gelede vir 'n Desoto Airflow verruil het. "Soos wat dit met 'n militêre voertuig gaan, het die een ook maar 'n harde lewe gehad en sal binnekort heeltemal opgeknap word."
Die heel eerste oumotor wat Karl besit het, was 'n 1931 Austin 7 Chummy, wat hy as 'n skoolseun gekry het. "Ek het sowat 95% van die restourasiewerk self gedoen en het dit nog."
Karl se tweede Britse voertuig wat hy daagliks gebruik, is 'n oop, tweedeur 1958 MG A. Sy broer Fritz het die voertuig pragtig restoureer en gebruik dit ook gereeld.
Die eerste voertuig wat Karl gekoop het, is 'n 1947 MG TC. Hy het die voertuig twee jaar gelede tydens 'n internasionale Bentley-toer in Vryheid, KwaZulu-Natal gesien.
Die voertuig is deur Harry Heinz restoureer, maar Harry se vrou het blykbaar vir hom 'n ultimatum gestel om die voertuig te verkoop. Harry het toe maar die voertuig aan Karl verkoop met slegs 950 myl (1 528 km) op die meter sedert die voertuig gerestoureer is.
Die voertuig het al talle toekennings van die MG Klub in KZN ontvang. "Ek is trots om te kan sê dat die voertuig soos 'n droom bestuur. Ek het reeds 3 000 myl (4 828 km) daarmee afgelê."
Karl sal in Oktober 2018 'n toer saam met ander TC-eienaars, wat aan die Knysna MG-klub behoort, onderneem.
Net voor die Paasnaweek in 2017, het Karl ook die eienaar geword van 'n 1928 3-liter Bentley.
"Ek was al talle kere deel van die ondersteunende span tydens internasionale Bentley-toere in Suid-Afrika en Nieu-Seeland, maar ek het nog nooit 'n Bentley besit nie."
Omdat sy pa verskeie Bentley en Rolls Royce-motors besit het, het hy met die voertuie grootgeword. Sy pa het onder meer 'n 8-liter, 4-liter, drie 4.5-liter en 'n R-tipe Bentley besit.
Die 1928 Bentley was al in die besit van verskeie Suid-Afrikaners.
Die laaste van hulle was Ali van Jaarsveld, 'n bekende gesig by die George-oumotorskou.
"Ali en haar man, Kobus, het voor sy dood duisende kilometer op Bentley-toere in die land afgelê. Dit was Kobus se wens dat ek die Bentley onder my sorg neem."
Sedert die voertuig in Karl se besit is, het hy in 2017 twee toere onderneem en sowat 2 000 myl (3 218 km) afgelê en hy beplan 'n toer van sowat 4 000 km vir 2018.
Die 2018 George-oumotorskou vind by die PW Botha-kollege plaas.
Slegs voertuie wat voor 1975 vervaardig is en wat geregistreer is, kan uitgestal word. Kontak Klaus Oellrich by 076 764 0897 vir meer inligting, of registreer op die webblad www.scocc.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'