Gallery Video
MOTOR NUUS EN VIDEO - Halfway Toyota George het Saterdag 30 Maart 'n ope dag gehou waar twee nuwe produkte uit die Toyota stal aan die publiek bekendgestel is.
Die blink nuwe Corolla Hatch luikrug en die splinternuwe RAV 4 het hulle indrukwekkende nuwe baadjies gewys.
Francois Germishuys het gaan inloer en deel hier sy indrukke met Autodealer. Sien ook Wessel van Heerden se video-onderhoud aanlyn.
Sportiewe Corolla Hatch
Kom ons kyk terug... Jare gelede, so ver terug as 1987, is die eerste voorwielaangedrewe Toyota Corollas in Suid-Afrika bekendgestel. Deel van daardie modelreeks was die Conquest, die luikrug, wat later die Tazz geraak het. Toyota het later die Run X, ook 'n luikrug bekendgestel. Toe volg die Auris, die Ago en die Yaris.
Nou is die splinternuwe Corolla Hatch bekendgestel. Die Hatch is beskikbaar in drie modelle - die 1.2T XS, 1.2T XS CVT en die luukse 1.2T XR CVT. Die CVT is 10-spoed tiptronic ratkas modelle. Die 1.2 liter turbo enjin ontwikkel 85 Kw @ 5200 rpm, sy wringkrag is 185 Nm @ 4000 rpm.
Kyk 'n video hieronder.
Die Hatch het pragtige baklyne. Die voorkant en agterkant is onmisbaar Toyota. Die kenmerke is duidelik sigbaar. Sy LED hoofligte vertoon pragtig met die samestelling wat Toyota gebruik het. Die Hatch se syaansig vertoon baie sportief. Dink dit gaan Toyota Gazoo Racing se volgende WRC tydrenmotor wees.
Binne die Hatch vertoon hy ook baie sportief. Al die nodige komponente is daar. Ek het baadjiehakke gesien, 'n sentrale konsole stoorbak, bekerhouers, stoorplek in die deure, agter en voor kopstukke en 'n sleutel-waarskuwingsgonser. Daar is selfs genoeg beenspasie agter al is die voorste sitplekke heeltemal terug geskuif.
Die instrumente paneel is goed toegerus en duidelik sigbaar. Die Hatch skakel sleutelloos aan, en die deure sluit sonder sleutel oop en toe. Al die modelle is toegerus met 'n tru-kamera en die XR CVT het ook 'n blindekol spieëltjie - BSM (Blind Spot Mirror).
Al drie die modelle se rubber voete is 205-55R16 op allooi wielvellings. 'n Pluspunt is dat die Hatch 'n oorspronklike grootte spaarwiel in die kattebak het.
Die intreemodel is die vinnigste met 'n topsnelheid van 200km/h. Nie sleg vir 'n 1200cc turbo enjin nie!
Al die modelle is toegerus met:
- ABS remme (Anti Lock Braking System)
- EBD (Electronic Brake Force Distribution )
- HAC (Hill Assist Control)
- VSC (Vehicle Stability Control)
- Die diensplan is 6 jaar of 90 000 km op al die modelle.
- Die waarborg is 3 jaar / 100 000 km op al die modelle.
- Diens van die Hatch moet elke 15 000 km geskied.
- Corolla Hatch 1.2T XS R336 800
- Corolla Hatch 1.2T XS CVT R347 400
- Corolla Hatch 1.2T XR CVT R367 100
Toyota RAV4 laat koppe draai
Wat 'n pragtige voertuig! Dit is die 5de generasie van die RAV4 en toe die voertuig in 1994 geloods is, het niemand kon glo die RAV sou sulke hoogtes bereik nie. Sedert sy geboorte in 1994 het die RAV4 konstant daarin geslaag om by te bly by ander sportnutsvoertuie in die mark, en het 'n simbool geraak van pret en avontuur en 'n voertuig wat oral kan speel.
Die 2019 weergawe is slanker, frisser en meer vaartbelyn as ooit te vore. Daar is meer enjinkrag, beter brandstofverbruik en meer veldry vaardighede as te vore. Of jy in die stad of in die veld is, dit is 'n voertuig wat jou in vervoering sit.
Vyf modelle is in die 2019 reeks beskikbaar:
- 2.0 GX 2WD R416 400
- 2.0 GX CVT 2WD R427 600
- 2.0 VX CVT 2WD R505 400
- 2.0 GX-R CVT AWD R508 100
- 2.5 VX AT AWD R577 900
Ek het lanklaas 'n sportnutsvoertuig gesien met soveel spasie binne. Jy kan die voorste sitplekke heeltemal terugskuif, dan klim 'n volwasse persoon gemaklik op die agtersitplekke in. Die bagasiebak het 'n enorme 698 tot 733 liter spasie.
Die instrumentpaneel is pragtig uitgelê met alle kontroles duidelik sigbaar en maklik om te bereik vanuit die bestuurdersitplek. In die GX-R model is daar oral oranje insetsels op die paneelbord en sitplekke wat dit ongelooflik mooi laat vertoon.
Die 2019 RAV4 laat jou met 'n keuse van of 17 duim, 18 duim, of 19 duim wielvellings. LED dagryligte en outomatiese hoofligte (high beams) is standaard.
Brandstofverbruik is baie ekonomies. Die verbruik wissel tussen 6.5 en 6.8 l/100km op die 2.0 liter modelle, en 7.3 liter l/100km op die 2.5 liter modelle.
Die binneruim van die RAV4 GX-R is pragtig met sy oranje invoegsels op die paneelbord en sitplekke.
Die 2 liter enjin ontwikkel 127 Kw @ 6 600 rpm en die 2.5 model ontwikkel 152 Kw @ 6 600rpm.
Die RAV4 is met die volgende eienskappe toegerus om te help met veiligheid:
- DAC - Downhill Assist Control
- HAC - Hill Assist Control
- MTS - Multi Terrain Select
Tydens die rit kan jy ook kies om of in normale-, sport- of ECO-keuse te ry.
Die nuwe 2019 RAV4 is voorwaar 'n looker... Sal nie omgee as hy in my motorhuis staan nie!
Die binneruim van die Corolla Hatch is prakties uitgelê met 'n groot middelskerm vir die hulpmiddels.
Die RAV4 het die manne se monde laat water. Foto: Wessel van Heerden
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'