MOTOR NUUS - Die SA Jeepklub het besluit om sy jaarlikse landwye byeenkoms van Wrangler Jeeps sonder dakke te hou en so is die 'Go Topless' dag gevestig. In George het Hanko Serfontein van Wrangler Tech in George 'n pretdag gereël.
Vroegoggend het sowat 23 Jeeps in George byeengekom met modelle so oud as die 1950's tot die nuutste CJ Jeeps en Wranglers, het deelgeneem.
Die konvooi het net na 09:00 deur George beweeg, terwyl mense op die sypaadjies die skouspel geniet het. Toe is die konvooi onder leiding van Serfontein in rigting Wilderness. Die asemrowende gesig van 23 Jeeps agtermekaar deur Kaaimanspas sal 'n mens lank bybly.
Daarna is die Paradys 4x4-roete van Jacques Musket aangedurf. Eers is by die lapa gestop vir koffie en toe die tydsame proses van bande afblaas om die los sand baas te raak. Mario Ferreira het sy handige 'Indeflater' banddrukapparaat gedemonstreer. Met die apparaat kan hy twee bande gelyk afblaas. Dit kan ook om sy Dunlop MT 2-bande van die spaarwiel af oppomp. Die apparaat het ook 'n lewenslange waarborg.
Toe is die duine aangepak. Sommer by die eerste hindernis het Johan Vogel moeilikheid ondervind met bande se druk wat te laag was, Hy het met sy historiese Jeep drie van die bande laat afklim van die vellings af. Die een voorband het heeltemal van die velling afgespring, wat beteken het sy dag was ongelukkig verby.
Die konvooi Jeep diep in die bosse waar hulle hoort. Foto's: François Germishuys
Mario Ferreira van Sedgefield en die suidkaap se 4x4-ghoeroe, demostreer sy unieke 'Indeflater'.
By 'Fugly' 'n uiters steil duin, het die manne en vroue geprobeer om die hoogte te tem. Almal is daar uit sonder probleme, hoewel party met meer as twee pogings. Ferreira het sy Jeep omgedraai en die duin met gemak in trurat uitgery nadat hy al die speelgoed binne se knoppies verstel het, tot groot vermaak van die ander.
Die dag is met `n lekker kuier en Jeepstories by die lapa afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'