In die afgelope vyf jaar is meer as 500 000 nuwe ligte handelsvoertuie in Suid-Afrika geregistreer. Volkswagen-Handelsvoertuie beskou die Amarok as die ideale voertuig vir hierdie marksegment. Die Amarok is brandstofdoeltreffend en gehard, maar nogtans staan sy voorkoms vir niks terug nie.
Die Amarok word in die Pacheco-aanleg naby Buenos Aires, in Argentinië, vervaardig. Die naam Amarok beteken "wolf" en is ontleen aan die Inuït-Indiane van Noord-Kanada en Groenland.
In 2008 het Volkswagen ‘n Amarok-bakkiekonsep by die Internasionale Voertuigskou vir Handelsvoertuie in Hanover, Duitsland gewys.
Volkswagen-Handelsvoertuie sê hul nuwe Amarok-eentonner is tegnies die gevorderdste bakkie in Suid-Afrika. Uiters gevorderde TDI-enjins - almal turboaangedrewe eenhede met direkte inspuiting - stel nuwe standaarde vir brandstofverbruik en emissies.
Talle van die tegnologieë waarmee die Amarok spog, word vir die eerste keer ooit in die eentonbakkiesegment gebruik. Dit sluit in die gebruik van ‘n dubbelturbostelsel (Bi-Turbo) vir die vlagskipenjin. Wat sy ruimte, laaibakbreedte en -hoogte, vragdravermoë en laaivrag betref, maak die nuwe Amarok aanspraak op die beste in sy klas.
Hierdie nuwe bakkie van Volkswagen word aanvanklik bekend gestel as ‘n dubbelkajuit met vier deure wat indrukwekkende ruimte bied.
VOORKOMS
In konsep en stilering word die Amarok duidelik beïnvloed deur Volkswagen se jongste ont-werpe.
Die klem val op horisontale lyne en duidelik goeie vakmanskap.
‘n Prominente kenmerk is die visuele eenheid wat gevorm word deur die horisontale hoofligte en die sierrooster met hortjies en dekoratiewe aksente.
Die stilering van die Amarok is ook opwindend danksy die dinamiese ronde oppervlakke.
Van voor strek ‘n oppervlak oor die kontoer van die modderskerms na die kantvensters.
Die skoon kurwes van die bakkie se kantpanele en enjinkap gee die Amarok die geharde voorkoms wat mens van ‘n bakkie verwag.
Aan die agterkant vang die prominente VW-logo dadelik die oog.
Die bakkie se agterligte het ‘n eiesoortige voorkoms. Die hoë standaarde van die ontwikkelingspan word weerspieël in details soos hierdie, wat die Amarok verbeeld as ‘n ware Volkswagen met ‘n deftige, stewige voorkoms.
BAANBREKERENJINS
Die Amarok spog met Volkswagen se heel jongste dryfstelsel en Volkswagen-Handelsvoertuie se bekendstelling van die nuwe bakkie is tegnologies gesproke vir die maatskappy ‘n groot stap.
Die TDI-enjin met ‘n verplasing van 2 liter het direkte deelpypinspuiting met ‘n dubbel-turbo wat 120 kW ontwikkel en ‘n maksimum-wringkrag van 400 Nm by ‘n lae 1 500 r/min.
Hierdie uitstekende verrigting word gelewer teen ‘n merkwaardig lae gekombineerde verbruik van net 7,9 liter/100 km.
In die Amarok word die enjinkrag via ‘n sesspoedhandratkas oorgedra. Met ‘n reikafstand van meer as 1 000 km op ‘n vol tenk is hervulling nie ‘n kwessie nie.
Die turbodieselenjin voldoen aan Euro 3-emissievereistes.
DINAMIES EN VEILIG OP ELKE SOORT TERREIN
Amarok-klante kan kies tussen twee verskillende dryflyn weergawes: skakelbare vierwielaandrywing (4MOTION) en agterwielaandrying (4x2).
Die toetsrit was in die Amarok 4MOTION HiLine met stelbare vierwielaandrywing. Die model word uitgeken aan ‘n rooi ‘4’ en is ‘n ideale voertuig vir veldry in strawwe toestande, hoewel dit ewe gerieflik en tuis op die teerpad voel.
Die rigiede vierwieldryfstelsel word in alle ware vierwieldryfvoer-tuie ingespan en die stelsel is beproef en bewys. Dit word in wer-king gestel met die druk van ‘n knoppie en die krag word dan ewe-redig na albei asse versprei.
Vir moeiliker veldtoestande is daar ‘n laagstrek-oordra-ratkas wat goeie trekkrag verskaf.
Die Amarok is toegerus met ‘n elektroniese ewenaarslot met outo-matiese remingryping. Dit verbeter trekkrag op alle oppervlakke. ‘n Meganiese agterste ewenaarslot is beskikbaar vir besonder strawwe rytoestande.
LEWENSTYL
Die Highline het as standaardeienskappe hoogteverstelbare sitplekke voor, ‘n agtersitplek wat heeltemal platvou, rommelkissie met slot en ‘n laaibaklig. Die voorbuffer en handvatsels is in die bakkleur geverf. Ruit- en kantspieëls en die deurslotte word elektries beheer en die bakkie het ‘n radio/CD-speler, snelheidsbeheer en misligte voor.
Die Amarok Highline het ook gedeeltelik verchroomde kantspieëlhouers, chroomaksente binne en buite en uitklokwielboë wat ruimte skep vir 17"-allooiwiele.
RUIMTE
Die Amarok se buitengewone kajuitafmetings maak dit die ruimste voertuig in die klas. Die voertuig se fyngestelde ergonomie is kenmer-kend vir Volkswagen se handelsvoer-tuie. Maklike toegang, ruim sitplekuitleg en baie kopruimte is ‘n kenmerk van die ruimte agter die stuurwiel. Voldoende beenruimte vir die agterste insittendes maak die Amarok ‘n volwaardige vyfsitplekvoertuig.
Met net twee insittendes aan boord kan die agtersitplek platgeslaan word om die laairuimte in die kajuit te vergroot.
LAAI MAAR OP
Die laaibak van die Amarok-Dubbelkajuit spog met die beste afmetings in sy klas. Dit is 1 555 mm lank en 1620 mm breed en bied ‘n indrukwekkende laaibak van 2,52 vk m. Amarok se maksimum-laaibreedte van 1 222 mm tussen die wielboë verdien ook ‘n spesiale vermelding.
Die Amarok maak dit maklik om sporttoerusting soos vierwielmotorfietse of groot items soos masjinerie te vervoer.
Vier oogbindboute aan die hoeke van die laaibak kan gebruik word om vrag stewig vas te bind. Die Amarok kan ook sleepwaens met ‘n oorslagrem van tot 2,8 ton gemaklik sleep.
VEILIGHEID
Afgesien van lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier is daar ook kop- en borslugsakke, ongewoon in dié segment.
Ook ingesluit is hoogteverstelbare kopstutte en driepuntveiligheidgordels vir alle sitplekke.
Daar is Isofix-hegpunte vir kinderstoeltjies.
Ander aktiewe veiligheidseienskappe is die Elektroniese Stabilisasieprogram (ESP), wat standaard is in die Highline-modelle. In al die weergawes met ‘n sleepstang-aansluiting sluit die ESP-eienskappe ook sleepwa-stabilisasie in.
Die ‘Off-Road Mode’ word geaktiveer deur die druk van ‘n knoppie en werk tot ‘n voertuigsnelheid van tot 100 km/h. Hier-deur word die ESP-stelsel, Elektroniese Ewenaarslotte (EES), Vastrapbeheer (Anti-Slip Regulation, of ASR) en die Sluitweerremstelsel (ABS) vir strawwe veldrytoestande gestel.
Die ABS-remstelsel beperk die rem-afstand op teer- en grondpad.
In ‘Off-Road Mode’ in die Amarok teen minder as 30 km/h, word Heuwelafryhulp (Hill Descent Assist) ook geaktiveer. Dit hou die snelheid konstant teen steil afdraandes deurdat die stelsel remming toepas.
BESTUURPLESIER
Die uitsig na alle kante is uitstekend, wat beteken dat die bakkie ewe maklik in strawwe veldrytoestande as in stadsverkeer bestuur.
Amarok-gerief beteken dat dit besonder maklik is om in en uit die vyfsitplekkajuit te klim. Die Volkswagen het vier deure wat wyd oopmaak, daar is gryphandvatsels aan die A- en die B-pilare.
Die hoogteverstelbare voorste sitplekke het sportiewe kontoere en is gerieflik danksy die ergonomiese ontwerp. Die ont-werp van die stuurwiel is soortgelyk aan dié in die nuwe T5.
Die stuurkajuit voldoen aan die besonder hoë standaarde vir ergonomie en kontroles, wat kenmerkend is vir Volkswagen se handelsvoertuie. Twee ronde instrumente, ontwerp vir maklike sig en ‘n deftige voorkoms, verskaf inligting oor die voer-tuig se snelheid en enjinspoed. In die Amarok Highline het hulle ‘n elegante voorkoms danksy chroomgleufringe. In die middel van die instrumenthuls vertoon ‘n maklik leesbare syfervertoon addisionele inligting.
Hulpkontrole vir die 4MOTION-vierwielstelsel en krag-oorbringfunksies is naby die rat, waar dit maklik bereik en beheer kan word.
Hoog op aan die middelkonsole en direk binne die bestuurder se gesigsveld is die klankstelsel. Reg daaronder is die beheerpaneel van die verhittings en lugversorging wat standaard aan die model is.
Die Amarok is prakties danksy die groot verskeidenheid slim bêre-opsies in die kajuit.
Die groot houers in die deure, het byvoorbeeld plek vir 1,5 liter-bottels voor en literbottels agter en daar is twee beker-houers in die middelkonsole.
Daar is ‘n skuif-laai onder elk an die voorste sitplekke en ‘n bêrekissie agter die rat. In ‘n maklik bereikbare houer op die instrumentpaneel is daar 12 Volt-sokke. ‘n Veelverbindingspunt kan gebruik word vir ‘n handvrye telefoon.
GROEN
Volkswagen glo die Amarok bring volhoubaarheid na die marksegment en is enig in sy soort met CO2-emissies onder die 210 g/km-perk.
Dit is die mees gevorderde tegnologie vir enjins en dryfstelsels in die segment vir eenton-bakkies in terme van lae brandstofverbruik en CO2-emissies.
Die vierwielaangedrewe 4MOTION-weergawe het ‘n gemiddelde verbruik van 7,9 liter/100 km en CO2-emissies van 208 g/km, wat baie laag is.
SLOTSOM
Die Amarok lyk deftig op straat, maar toegerus met die 4MOTION-vierwieldryfstelsel en ewenaarslot kan dit ewe maklik gebruik word vir ekspedisies oor die strafste terrein na die mees afgeleë plekke.
Die Amarok kan water tot ‘n diepte van 50 cm hanteer.
Een ding is verseker: die Amarok sal nuwe standaarde in ‘n mededingende segment stel.
Dit bied brandstofdoeltreffend, gerief en veiligheid met lae emissies.
Die Amarok beloof ook om ‘n praktiese voertuig vir daaglikse gebruik te wees.
Laastens is dit ‘n bakkie uitgeknip: eenvoudig, gehard en sonder fieterjasies. Tog maak die stilering en afwerking dit ‘n besonder deftige voertuig.
MODELPRYSE
Trendline Amarok Dubbelkajuit 2.0 TDI Trendline 4x2 90 kW R316 800
Amarok Dubbelkajuit 2.0 TDI Trendline 4Motion 90 kW R364 400
Highline Amarok Dubbelkajuit 2.0 BiTDI Highline 4x2 120 kW R342 400
Amarok Dubbelkajuit 2.0 BiTDI Highline 4Motion 120 kW R390 000
DIENS EN WAARBORG
Die Amarok kom standaard met ‘n drie jaar of 100 000 km-vervaardigerwaarborg en ‘n Automotion-diensplan van vyf jaar of 90 000 km.
Alle modelle het ‘n sesjaarwaarborg teen korrosie. Die voertuie moet elke 15 000 km gediens word.
Die Amarok Highline is deur Tavcor York vir die toetsrit beskikbaar bestel. Vir meer inligting, skakel 044 874 4193.
TOETSRIT DEUR ANICA KRUGER.