Onlangs het ons die verdere voorreg gehad om die stasiewa-weergawe in die skilderagtige Oos-Vrystaat om Golden Gate en Clarens te gaan ry.
Swak paaie en slaggate ten spyt, het die nuwe C-Klas Estate beïndruk met ritgehalte en 'n uitstaande kajuit.
Anders as Europa, waar stasiewaens heel gewild is, is Suid-Afrikaners in die meer moderne tye - om geen maklik verklaarbare rede nie - effe allergies vir die tipe motor. Volgens vriende en kollegas is dit waarskynlik te wyte aan die persepsie dat 'n stasiewa nie meer so veilig is as in die jare sewentig nie en dat dit sedertdien in onbruik geraak het.
Suid-Afrikaners koop ook veral sedert die vroeë negentigs meestal bakkies (en baie van hulle!), fôr-baai-fôr's en sportiewe motors. Mercedes-Benz was egter van die min vervaardigers wat ten spyte hiervan voortgegaan het om stasiewa-modelle plaaslik te verkoop.
Met die lang rit oor twee dae in dié motor, is die gerief en ruimte van die stasiewa egter weer by 'n mens ingeskerp.
Die C-klas sedan word in Mercedes-Benz se multi-miljard aanleg in Oos-Londen gebou, maar die Estate kry sy gestalte in Engeland vanwaar dit onder andere na Suid-Afrika verskeep word.
SPORTIEWE STASIEWA
Mercedes-Benz se ontwerpers het dit reggekry om die nuwe C-klas Estate 'n sportiewe voorkoms te gee met die lang dak wat na agter boog.
Hoewel die Estate op die C-klas sedan se platform gebou word, hang die bak langer oor die agterste as vir 'n groter laairuim met meer praktiese gebruiksaanwending. Laairuimte agterin is nou 490 liter en 1 510 liter met die agterste ry sitplekke platgevou.
Met 'n groter persentasie aluminium in die bakwerk, het die witjasse by Merc ook verseker die nuwe Estate is die ligste in sy klas. Die voertuig kom nou met verbeterde padgedrag en veiligheid tydens botsings. Die Estate se agterklap kan nou elektries oopmaak as jou arms volgepak is en die sleutel in jou sak lê.
Swaai net die voet onder die agterbuffer in - en 'n sensor sal die agterklap outomaties laat opswaai.
Binne is die Estate se kajuit presies dieselfde as die sedan met Mercedes se klasleidende afwerking in topgehalte materiale. Toerustingvlakke en elektroniese hulpmiddels is soortgelyk met 'n lang lys van opsionele ekstras beskikbaar.
VERBETERING
Die maatskappy het spesifiek aandag gegee aan die verbetering van geraasvlakke en vibrasies. Met die opsionele (duur) AIRMATIC-lugvering was die rit in ons toetsmotors subliem met uitstekende paddinamika en hantering - laeprofielbande en die slaggat-befomfaaide stukke pad ten spyt.
Mercedes-Benz SA het aanvanklik drie enjinweergawes beskikbaar. Dit sluit in: twee BlueDIRECT vier-silinder petrol enjins waarvan die kraglewering wissel vanaf 115 kW tot 135 kW vir die C 180 en C 200 onderskeidelik. Die enigste diesel tans beskikbaar is die
C 250 BlueTEC waarvan die vier-silinder enjin 150 kW se piekkrag lewer.
Aandrywing is deur die agterwiele via Mercedes se 7G-outomatiese ratkas met vier ry-modusse, nl. ECO, Comfort, Sport of Sport +.
BESONDERHEDE
Al drie enjinweergawes is beskikbaar in Exclusive Line afwerking (met die driepunt ster op die enjinkap) of AMG SportLine waar die driepunt-logo prominent op die sierrooster geplaas is.
Soos met alle nuwe Mercedes-Benz passasiersmotors, kom die C-Class Estate standaard met 'n sesjaar- of 100 000 km PremiumDrive onderhoudplan, sonder enige bydrae van die eienaar.
Pryse: C 180 Estate - R447 600; C 200 Estate - R468 300; C 250 BlueTEC Estate - R558 400. (BTW ingesluit, maar CO²-belasting uitgesluit.)
Mercedes-Benz is een van die min vervaardigers wat steeds stasiewa-modelle plaaslik aanbied.
Die Estate-model word van Engeland ingevoer, maar is baie tuis op Suid-Afrikaanse paaie, slaggate ten spyt.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'