Update
GEORGE NUUS - 'n Jaagduiwel, in 'n Jaguar met versteekte nommerplate, het verlede Vrydag sy moses teëgekom na hy teen 195 km/h op die N2, in 'n 120 km/h-sone, gery het.
Shabeer Adam (49) het in die rigting van George na Kaapstad gery toe hy naby Glentana deur provinsiale verkeersbeamptes afgetrek en in hegtenis geneem is.
Hy het Maandag 28 Mei in die George-landdroshof verskyn op aanklagte van roekeloos en/of nalatige bestuur, oorskryding van die spoedbeperking en dwarsboming van die gereg, omdat hy nie sy nommerplate vertoon het nie. Die nommerplate is in die voertuig gevind.
Volgens hoofverkeersbeampte, Quinton Williams, was Adam se verweer dat hy haastig op pad na 'n begrafnis toe was.
"Daar is geen genade vir spoedoortreders nie. In 'n beboude gebied sal motoriste in hegtenis geneem word indien hulle die spoedgrens met meer as 30 km/h oorskry. Op 'n nasionale pad sal motoriste in hegtenis geneem word wanneer hulle die spoedgrens met meer as 40 km/h oorskry. Daarna sal 'n landdros oor die toepaslike boete of straf beslis," sê Williams.
Adam is vrygelaat op 'n waarskuwing en sal weer op Maandag 18 Junie in die George-landdroshof verskyn.
*A man, Shabeer Adam (49), appeared in the George Magistrate's Court after he was arrested for speeding last Friday. Adam was caught going 195km/h in a 120km/h zone on the N2 near Glentana. He will appear in court again on Monday 18 June.
Lees 'n vorige artikel: Speedster arrested near George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'