GEORGE NUUS - Met die nuwe skooljaar wat afgeskop het, is ouers se skedules weer gelaai met ritte om hul kinders by die skool af- en op te laai.
Die Go George-busdiens bied 'n handige en praktiese alternatief aan inwoners in die areas waar die busdiens reeds beskikbaar is.
Leerders kan van 12-jarige ouderdom die busse op hul eie gebruik, hoewel Go George nie verantwoordelikheid aanvaar vir jonger kinders wat sonder volwasse toesig ry nie. "Hierdie is so 'n gerieflike en veilige oplossing, en boonop bekostigbaar ook," sê James Robb, die Go George-bestuurder.
Robb sê hul kommunikasiespan sal weer alle hoërskole wat deur die busdiens bedien word, besoek om gr. 8-leerlinge in te lig oor die verskillende busroetes skool toe.
Unieke kaarte wat die verskillende opsies van roetes uitbeeld, is geskep vir elke skool en word uitgedeel en bespreek met die leerders. Hierdie kaarte kan ook afgelaai word van die Go George-webblad.
"Ons het egter ouers se hulp nodig om hul kinders op te voed om veilig te wees in die omgewing van die busse, en om by die reëls te hou wat verseker dat 'n busrit 'n aangename ervaring vir al die passasiers is, wat ook insluit dat die busse en bushaltes nie beskadig word nie.
Niemand word toegelaat om te eet of te drink op die busse nie - dit sluit kougom wat net te maklik op enige oppervlak geplak word in. Harde musiek of luidkeelse selfoongesprekke is ook onaanvaarbaar. Maar nog belangriker is die feit dat ons wil hê leerders moet versigtig wees wanneer hulle van die bus afklim en die straat oorsteek, en om nie van agter 'n bus oor die straat te loop waar motoriste hulle nie kan sien of verwag nie. "
Robb sê die reël is om die pad by 'n veilige voetoorgang te kruis, en dit is waarom bushaltes almal naby 'n afgebakende voetoorgang geplaas is. "Verduidelik ook asseblief aan jou kinders hoe gevaarlik dit is om langs 'n bus te hardloop en daaraan te probeer raak; ons vind dat hierdie 'n gewilde en baie gevaarlike speletjie onder die jongklomp is," waarsku Robb.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'