MOTORNUUS - 'n Epiese rit met 'n perdekar wat oor meer as 'n duisend kilometer gestrek het, het alles begin omdat 'n boer van Daniëlskuil in die Noord-Kaap besluit het sy perde moet die see sien.
Japie Steyn, sy vrou Tersa en hulle vriende, Pierre en Elrina Cilliers, asook drie helpers, het in middel Maart met 'n perdekar en 11 perde vanaf die Lime Acres/Griekwastad-kruising weggetrek. Hulle het op 28 Maart stokflou, maar doodgelukkig op Jongensfontein naby Stilbaai aangekom.Tersa vertel dat hulle 'n groep vriende is wat 'n perdeklub het waar hulle onder andere pretritte met die perdekar aanbied.
Die karretjie het aan 'n ou inwoner van Daniëlskuil behoort voor Japie dit gekoop het. Omdat hulle so lief is vir perde, het Japie 'n droom gehad om 'n lang rit met die perdekar aan te pak, net soos wat sy oupa in die oorlogstyd gedoen het.
Gedurende die Paasnaweek van 2018 het hulle die beoogde roete met 'n bakkie gery en die groot beplanning het begin. Mense is in dorpe gekontak wat min of meer 100 km uitmekaar was om oornagplek te reël en die geldsake is haarfyn uitgewerk.
Sommer kort na die wegspringslag was daar amper probleme toe die leisels tussen die perde ingeval en die perde begin hardloop het. Gelukkig het Japie daarin geslaag om die leisels op te raap voor dit ernstige nagevolge gehad het. Die hele ekspedisie was weer byna daarmee heen by die ingang van die Moordenaarskaroo, toe Japie met die perdekar stilhou om seker te maak die bakkie het nie in 'n donga beland nie.
Die perde het hulle kans gesien en begin hardloop. Toe hulle 5 km verder die perde opspoor, het die karretjie op sy dak gelê. Gelukkig het die twee perde net skaafplekke opgedoen en die skade aan die kar kon redelik maklik herstel word.
Van links: West Muse, Tersa Steyn, Japie Steyn, Elrina Cilliers, Samuel (op Elrina se arm), Pierre Cilliers, Koppe Kerneels en Voëltjie Fortuin. Foto: Deona Aucamp
Per dag is 100 km afgelê. Die dae is in skofte van 35 km elk verdeel, wat beteken dat ses perde per dag gebruik is. Hulle oornagplekke was Griekwastad, Prieska, net buite Carnarvon, Tiervlei, Fraserburg, Sutherland, die plaas Knoffelfontein, Wolverfontein-gasteplaas en Woensdagaand net buite Heidelberg.
Met hulle aankoms op Wessel Oosthuizen se plaas by Jongensfontein was die laaste uitspan duidelik baie welkom vir mens en dier. Hulle het Saterdagoggend 30 Maart die terugtog aangepak, maar daar is baie ferm verklaar: "Hierdie keer is dit padlangs en met meer as net perdekrag!"
Die groep het 'n dubbelkajuit bakkie met 'n sleepwa gehad vir hulle benodigdhede en die perde se kos en water. Die perde is terug na Daniëlskuil in 'n 4-perdsleepwa agter 'n vragmotor. 'n Aansienlike vinniger rit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'