MOTORNUUS - Riversdal Toyota het weereens weggestap met gesogte nasionale toekennings vir handelaars landwyd.
Toyota SA gee jaarliks erkenning aan handelaars by 200 takke landwyd en die toekennings is tydens 'n glansgeleentheid in Kyalami, Johannesburg oorhandig.
Die handelaarskap is bekroon vir die tak met die beste kliëntediens landswyd, waarvoor Henk Louwrens, handelaarshoof, en sy vrou Constance, 'n besoek aan Rusland as eerste prys ontvang het. Riversdal Toyota het hierdie toekenning ook in 2011 ontvang.
Volgens Louwrens word elke handelaarskap streng volgens 'n reeks kriteria beoordeel, wat onder meer kliëntediens, verkope van nuwe en gebruikte voertuie, dienslewering, onderdelebestuur en werkswinkelpraktyk insluit.
Pieter Wentzel, bestuurder van die onderdele-afdeling het erkenning ontvang vir die bestuur van hierdie afdeling en kliëntediens. As prys het hy en sy vrou, Karin, 'n besoek aan die eiland Malta ontvang.
Corné van Greunen, werkswinkelbestuurder, Henk Louwrens, handelaarshoof van Riversdal Toyota en Pieter Wentzel, bestuurder onderdele-afdeling. Foto: Tisha Steyn
Dié handelaarskap het ook vir die derde agtereenvolgende jaar die gesogte Pyramid of Excellence-toekenning as Lighthouse dealer ontvang.
"Slegs 30 handelaars landwyd het vir dié prys kwalifiseer. Daarvoor moet 'n mens, benewens die algemene funksies, ook voldoen word aan die baie hoë standaarde wat Toyota SA vir die bestuur van die handelaarskap se onderdele- en werkswinkelafdeling stel, asook aan die hoogste Europese omgewingstandaarde voldoen. Corné van Greunen, die werkswinkelbe-stuurder, het hierdie toekenning in ontvangs geneem.
Louwrens skryf Riversdal Toyota se sukses toe aan toegewyde personeel en 'n uitstekende kommunikasiesisteem.
"Ons is heeldag lank in kommu-nikasie met mekaar oor sake wat kliënte raak – ons verwys deesdae na ons kliënte as gaste. Die verskillende departemente ondersteun mekaar uitstekend."
Dié feit word onderstreep deur 'n onafhanklike personeelopname wat deur die maatskappy Bateleur gedoen is.
"Hulle het bevind dat ons 98% personeel-betrokkenheid het, die hoogste wat hulle nog ooit ondervind het," vertel Louwrens trots.
Riversdal Toyota is ook trots daarop om een uit 30 handelaars te wees wat gereken word as 'n Best in Town-onderneming waar kliënte op die hande gedra word.
Die moderne werkswinkel is in April 2014 opgerig met motorwasgeriewe waar herwinde water vir die was van voertuie gebruik.
Vroeg vanjaar is die vertoonlokaal verander om 'n moderne, oop ruimte te skep vir hul sierlike nuwe modelle. "Dit is alles gerig op ons gaste se gerief," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'