MOTORNUUS - Minder mededingers het op Saterdag 15 September in die vorige ronde van die SWD-kampioenskappe se ovaalbaanreeks in George gesorg vir meer opwinding.
Die laer aantal inskrywings was daaraan toe te skryf dat die renjaers hul motors bietjie gespaar het vir die SA kampioenskap in Kaapstad op 22 September.
Die minder deelnemers het vir 'n puik middag se vermaak gesorg en in al die klasse was daar heelwat aksie. Sommer vroegmiddag het ek opgemerk dat Bennie Greyling `n splinternuwe motor in die kuipe gehad het - sy derde nuwe een vir die jaar.
Greyling het glo 'n begeerte gehad om saam met sy SWD V8-renjaers met 'n effe "makker kar" deel te neem, omdat sy twee ander in 'n ander "klas" is. Ek het ook vir Bennie de Bruyn en sy groen Chev in die kuipe gesien. Dit het mens laat voel dat ons kon klaarmaak vir 'n lekker tweestryd tussen die twee Bennies.
Die tweestryd was ongelukkig van korte duur, want in die eerste uitdun het De Bruyn se Chev se enjin stoom begin uitblaas. Hy moes die motor vir die res van die dag onttrek. Wat 'n jammerte!
'n Paar ander V8-motors moes ook die middag onttrek en Greyling het die klas maklik in sy vinnige kort Chev Flexi gewen.
Die Heavy Metal-klas was ook vol aksie. Met een van die grootste getal inskrywings, kon jy in geen uitdun voorstel watter BMW of Ford die wedren sou wen nie.
Drie verskillende wenners in elk van die drie uitdunne en die finaal was skouspelagtig gewen deur André le Roux in sy BMW.
Van die deelnemers in die klas het gesukkel met oorverhitting omdat Motorsport SA die reëls vir die klas verander het.
Geen verkoelers mag meer in die voertuig sit nie, almal moet weer voor sit. Van die deelnemers moes dus kleiner verkoelers pas, wat nie goed gewerk het nie.
Met die SA been van die Heavy Metal-klas wat op 27 Oktober in George gery word, sal almal egter reg wees vir volspoed.
Die hitsmotor en 2,1-klas is saam afgehandel. Hier was ook renne uit die hoogste rakke te sien. Shaun Potgieter het die hitsmotor-klas met sy pragtige VW Scirocco gewen. George se 'Meneer Stockcar Tegnies' ofte wel Sydney van Rensburg was tweede met sy Syrah Racing Ford Fiesta en Oosies Racing se Waldo Oosthuizen was derde met sy Toyota-aangedrewe Opel Corsa.
Die 2,1-klas het net twee renjaers gehad wat die eindronde voltooi het. Die klas is deur Johannes Havenga met sy pragtige Ford Fiesta gewen, met Rietha Oosthuizen se Oosies Racing VW Polo in die tweede plek.
Die 1660-klas was ook lewendige wedrenne. Izaan Keller het die eerste uitdun gewen, daarna het Juan van Rensburg die klas oorheers in sy Tiger Wheel & Tyre VW Polo.
Izaan Keller en Daan de Waal het Van Rensburg kwaai gedruk deur die uitdunne, maar hy was net te sterk.
Die ontwikkelingsklas het met twee nuwe renjaers gespog. Die twee manne het in die eerste uitdun agter gery om eers die gevoel te kry. In die tweede uitdun het hulle stadig maar seker die krane begin oopdraai. Hulle was Cornel Nortjé met 'n baie mooi swart Golfie, en Marius Wagener met 'n geel Golfie.
Toe gebeur dit... Marius spring voor weg in die derde uitdun. Hy verras almal en weer aanslag op aanslag van Eugene van der Merwe af en wen die uitdun. Ek kan nie onthou wanneer laas iemand op sy eerste keer 'n wedren gewen het nie.
Die volgende byeenkoms vind op 6 Oktober op Oudtshoorn plaas en dan op 27 Oktober in George.
Tydens die byeenkoms word die SA kampioenskap vir die Heavy Metal-klas se laaste been afgehandel. Hier sal ons uitvind wie volgende met 'n SA nommer sal kan jaag. Kom kyk gerus.
Vir navrae, skakel Veronica Carrara by 082 920 6447. Besoek ook die webwerf www.georgemotorclub.com vir nuus en inskrywingslys.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'