GEORGE MOTORNUUS - Verlede Saterdag, 14 Desember, is die laaste ovaalbaanwedrenne op die George-ovaalbaan vir 2019 aangebied. Sowat 50 motors het in die verskillende klasse ingeskryf. Renjaers het van so ver as Bloemfontein en Kaapstad hierheen gereis om te kom deelneem.
In al die klasse, van die Ontwikkelingsklas tot die magtige Gemodifiseerde V8 klas, was die gort gaar tussen die deelnemers. Die aand het skitterwedrenne opgelewer tot die begin van die tweede uitdunne, toe die reën op die baan neergestort het.
Die klerk van die baan, Andries Olwagen, het besluit dat die baanoppervlak te gevaarlik was om op te jaag en het die wedrenne uitgestel tot Maandagoggend om 10:00 toe dit in droë toestande hervat is.
'n Groot aantal toeskouers het die wedrenne op die vakansiedag bygewoon.
Weereens is goeie wedrenne in al die klasse aangebied. Die hoogtepunt was ongetwyfeld die Gemodifiseerde V8 klas. Die wedywering tussen George se twee Bennies het die toeskouers op hulle voete gehad. Uiteindelik moes Bennie Greyling die knie buig voor Bennie de Bruyn, wat die klas gewen het.
Die 2.1 Klas het vir groot opwinding gesorg toe Christopher Burish met die klas se derde uitdun amper met 'n halwe kar die wedren voltooi het. Een van die groot gunstelinge in die klas, Festus Lindstrom van Tygerberg, moes ongelukkig weens meganiese probleme die aftog blaas.
Burger van der Westhuizen was ook weer witwarm in die 1660 klas met sy geleende VW Golf. Die klas is skitterend gewen deur Izaan Keller met sy VW Golf.
Die Heavy Metal-klas was skitternd gewen deur William Steyn met sy pragtige BMW 330.
In die Ontwikkelingsklas het Deur David Jones Jr. vir 'n verrassing gesorg toe hy die gunsteling, Ivan Pitol, die loef afgesteek het en met die louere weggestap het. Pitol was sterk in al die uitdunne, maar het in die eindronde gesukkel met die baanoppervlak, wat die deur vir Jones oopgemaak het.
Die Heavy Metal-klas is oorheers deur William Steyn. Steyn het Saterdagaand kompetisie gehad in die vorm van Francois Smit van Worcester met sy pragtige BMW. Smit kon ongelukkig nie die wedrenne op Maandag bywoon nie, en dit het Steyn vrye teuels gegee. Die ander groot gunsteling, André le Roux, het tweede plek losgeslaan met 'n BMW wat in die finale wedren geklink het of dit op slegs vyf silinders loop.
Shaun Potgieter het die Hotrod-klas gewen met sy pragtige Volkswagen Scirocco.
Die George-motorklub, Oudtshoorn-motorklub met hulle komitees, sowel as AutoDealer, wens al die lesers `n Geseënde feesgety, en ons hoop ons sien julle weer 2020 vir hope aksie op die twee Suid-Kaapse bane.
Hou www.georgemotorclub.com of SWD OVAL NEWS op Facebook dop vir die 2020 wedrendatums.
Uitslae : Night of Champions
Ontwikkelingsklas:
1. David Jones Jr. - VW Golf
2. Martin van der Westhuizen - VW Golf
3. Ivan Pitol - VW Golf
1660-klas:
1. Izaan Keller - VW Golf
. Burger van der Westhuizen - VW Golf
3. Tiaan Oliphant - VW Golf
2.1-klas:
1. Henties de Villiers - Opel Corsa
2. Tersius van Tonder - Ford Fiesta
3. Alistair Simpson - Opel Corsa
Hotrod-klas:
1. Shaun Potgieter - VW Scirocco
2. Festus Lindstrom - Opel Corsa
3. Vicki Meyer - VW Golf
Allistair Simpson was derde in die 2.1-klas met sy haastige Opel Corsa.
Heavy Metal-klas:
1. William Steyn - BMW
2. Andre le Roux - BMW
3. Coenie Meyer - BMW
Gemodifiseerde V8-klas:
1. Bennie de Bruyn - Chev flexi
2. Anton van Nieuwenhuizen - Lexus flexi
3. Lodewyk Lotz - Chev flexi
Cross Carts-klas:
1. Waldo Oudtshoorn
2. Antony Oudtshoorn
3. Olivier Lombard
Sprint Car-klas:
1. Kenny Gouws
2. Daleen Gouws
3. Bertus Schoeman
Kennie Gouws het skoonskip gemaak in die Sprintkar-klas met sy haastige Chev. Foto's: Francois Germishuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'