MOTORNUUS - 'n Hoë lesing op 'n motor se afstandmeter hoef nie die voertuig se doodsvonnis te beteken nie.
Die behandeling wat die voertuig nuut sowel as oor sy leeftyd ontvang is egter bepalend. Hennie Stander van Stilbaai beaam dit as trotse eienaar van 'n 1975 Rambler Hornet 410 AT wat binne en onder die enjinkap oorspronklik is.
Hy beklemtoon dat die vervaardiger se diensskedule vir 'n nuwe motor gevolg moet word. Vir motoriste wat baie kilometers per jaar aflê is dit nog belangriker. Dis nie meer so maklik om self motoronderhoud te doen nie en om met 'n plastiekdop en niks anders nie onder die enjinkap gekonfronteer te word kan baie intimiderend wees.
Die binnekant van die Hornet is 'n plesier vir die oog.
Stander se topwenke vir verstandige alledaagse gebruik begin by oorlading. Wanneer 'n voertuig te veel passasiers of te swaar vrag moet vervoer word die leeftyd van onderdele soos skokbrekers drasties verkort en die struktuur kan beskadig word.
Indien die motor met 'n sleepstang toegerus is moet die sleepwa nie oorlaai word nie. Inspekteer die bande gereeld en indien die loopvlak af- of rondgeloop is moet dadelik daarvan werk gemaak word.
Onder die enjinkap moet die verkoelingstelsel gereelde inspeksies kry. Volgens Stander mag die vloeistof in die oorvloeibottel slegs helder of die kleur van 'n antivriesmiddel (indien dit bygevoeg is) wees.
Enige ander kleur is 'n gevaarteken en sowel die verkoeler as die bottel moet professioneel skoongemaak word.
Goed opgepaste bekleedsel bly vir jare mooi.
Remvloeistof moet jaarliks vervang word om die leeftyd van die remstelsel te verleng. Die enjin moet skoongehou word want 'n skoon masjien loop koeler as 'n vuil een, maar Stander wys daarop dat water en hoëdrukspuite nie die antwoord is nie. Enjinskoonmaakmiddels wat aangespuit of met 'n kwas aangeverf word is die veiligste.
By die kus is bote 'n algemene gesig. Stander maan dat seewater nie aan die motor mag raak indien 'n boot gelanseer word nie. Soutwater in die bakwerk is 'n wenresep vir latere roes.
Met betrekking tot die binnekant en bekleedsel het Stander definitiewe reëls vir sy passasiers. Niemand mag in enige van sy motors eet, drink of rook nie. Diere word slegs vervoer indien beskerming soos 'n ou kombers oor die sitplek gegooi is. Verfwerk kan met 'n spesiale beskermingslaag wat oksidasie verhoed bedek word.
Dit blink onder die enjinkap.
Soms bereik 'n motor tog ten spyte van voorsorg die einde van sy spreekwoordelike pad. Volgens Stander moet jy twee keer dink oor verdere geld aan 'n enjin spandeer wanneer dit begin rook of drasties olie gebruik, of wanneer die krag skielik afneem en werkverrigting swak bly.
Verleng jou kar se leeftyd
• Hoewel moderne enjins nie meer die tradisionele 'inloop' nodig het nie, moet vermy word om vir die eerste 1 000 km onnodig teen hoogste spoed te ry. Die vermaning om nie die rewolusies op te jaag en soos 'n spoedvraat weg te trek nie is ook nie net 'n wolhaarstorie om die buurvrou se ore te beskerm nie. Die meeste skade aan dryfstelsels word in die eerste 10 tot 20 minute van gebruik aangerig.
• Luierspoed vir 'n paar minute voor wegtrek in die oggend kan meer probleme veroorsaak as oplos. Die enjin bereik nie in daardie tyd werktemperatuur nie, wat beteken dat brandstof nie ordentlik verbrand nie. Neerslae vorm op silinders en indien dit in die olie beland kan groot skade aangerig word. Oliedruk kry ook nie kans om hoog genoeg op te bou dat al die werkende dele genoeg smering kry nie.
• Gereelde olievervanging speel 'n sleutelrol om metaalafval en stof wat met gebruik opbou te verwyder. Vervang alle filters gereeld en gebruik slegs olie met 'n viskositeit wat deur die vervaardiger aanbeveel word.
• Elke keer wat die enjin koud aangeskakel word dra by tot verweer. Dit is dus op die lang termyn voordelig om kort ritte so ver moontlik in een sessie te groepeer.
• Brandstof ingooi wanneer die tenkwa by die vulstasie staan is nie 'n goeie idee nie. Die ondergrondse tenks bou afsaksels op wat loskom wanneer die nuwe voorraad ingetap word en dit kan deur die petrolpomp in jou motor se tenk beland. Brandstoffilters en -pompe kan só verstop en beskadig raak.
• Dit mag handig wees om alle belangrike sleutels en sommer nog 'n gelukbringer ook saam met die motorsleutel te hê, maar indien jy jou voertuig nog vir jare wil geniet moet die motorsleutel op sy eie gehou word. Die gewig van ander sleutels kan skielik die einde van die aansitter beteken.
Die Hornet is mooi van alle kante.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'