Gallery
MOTORING NEWS - ReCollection Rides is 'n nuwe motormuseum wat sy deure onlangs op Graaff-Reinet vir die publiek geopen het en die Graaff-Reinet Advertiser berig dit is elke motorgeesdriftige se droom.
Dié museum bied besoekers 'n spesiale geleentheid om terug te kyk na amper 'n eeu se motorgeskiedenis met 'n unieke en opwindende versameling voertuie, motorfietse, speelgoedkarretjies en memorabilia. As bonus vir die besoeker is dit geleë in die pragtige omgewing van Graaff-Reinet.
Die museum is deur die bekende plaaslike afgetrede sakeman en veteraanmotor-geesdriftige, Hannes van Jaarsveld, gestig. Dit het begin met sy persoonlike versameling van 43 motors.
Hannes het sy lewe lank 'n passie vir motors en het sy versameling ongeveer twee jaar gelede met die aankoop van 'n 1984 Mercedes-Benz 230E begin.
"Die eerste motorvoertuie wat ek aangeskaf het was modelle wat my baie na aan die hart lê. Voertuie wat ek as kind leer liefkry het," vertel Hannes.
Enkele jare later, bestaan die besonderse versameling uit 'n verskeidenheid spesiale klassieke oumotors wat die entoesias se mond sal laat water.
Buiten motors, is daar ook elke motorfietse, 'n versameling speelgoedkarretjies en 'n koffiewinkel wat die museum se 1 350 vierkante meter volstaan. Die museum bestaan uit twee persele by Kollegeweg 38 asook nommer 29 aan die oorkant van die straat.
"My waardering vir oumotors spruit uit die feit dat ek hulle beskou as kunswerke en as blyke van die smaak, tegnologie, die tye en lande waarin hulle vervaardig is. Ek wil graag dié stukkies geskiedenis vir die volgende geslagte bewaar en nalaat," vertel hy.
Sy belangstelling in klassieke motors het ook oorgespoel na sy seuns Morné, Marco en Johan, wat ook tot dié versameling bygedra het.
Tussen die drie broers en hul pa is daar gesorg dat dié versameling motorvoertuie van elke soort en styl behels.
Die skaarsste motor onder al die rygoed is 'n blink gepoetste blou 1940 Buick 41C Convertible waarvan daar slegs 542 in 1940 vervaardig is. Dit is die enigste een in Suid-Afrika.
Verder is die oudste voertuig in die versameling, 'n 1922 Wolseley E3 Doctor's Coupé.
Veteraanmotor-geesdriftige Hannes van Jaarsveld by die motormuseum se oudste ryding, 'n 1922 Wolseley E3 Doctor's Coupé.
'n Mustang 351 Mach 1 en 1963 Volkswagen "Split-Window" bussie sal ook die belangstelling prikkel. Daar is ook 'n skaars BMW R69S wat almal sal fassineer wat 'n liefde vir klassieke motorfietse het.
Deel van die versameling by ReCollection Rides, is 'n vertoonkas met speelgoedkarretjies wat die een muur amper van die vloer tot dakhoogte buffer teen buffer volstaan.
Dié versameling is al oor die 600 items sterk en daar word deurentyd by dié versameling bygevoeg.
Onder die ander betowerende skatte by die museum, is daar talle outentieke advertensieborde en straattekens - aandenkings uit toeka se dae - wat op die mure pryk.
Almal word uitgenooi om dié unieke toevoeging tot Graaff-Reinet se besienswaardighede self te kom besoek en te geniet.
Toegang aan albei persele van die museum, beloop 'n billike R30 per persoon. Die kan museum van 08:30 tot 17:00 op weeksdae en van 08:30 tot 12:00 op Saterdae besoek word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'