Met die parmantige Kia Soul sê die maatskappy jy kan die vryheid hê om self te kies en om anders te wees. Die Soul wil jou help om jou persoonlikheid uit te leef en jou van die trop te onderskei.
Die stedelike buksie is ‘n veeldoel-voertuig vol nuwe idees wat ook gevestigde idees oor die motormaatskappy bietjie verder laat rek.
Treffend
Die 4.1 meter-lange Kia Soul is ‘n veelsydige voertuig met ‘n vyfdeur-luikrug wat baie gemaklik in die stad lyk en voel.
Dit het voorwiel-aandrywing, ‘n hoë daklyn en ‘n buitengewoon lang (2 550 mm) asafstand. Maar wat sorg vir die Soul se treffende voorkoms, is sy vertikale afmetings.
Die hoogte is 1 610 mm, die onderkant van die windskerm is 135 mm hoër as dié van ‘n tipiese kompakte motor, die ‘heup-punt’ is 120 mm hoër en die grondvrye hoogte is 165 mm.
Daar is 340 l laairuimte met die sitplekke in die regop-posisie.
Aan die voorkant sinspeel die Soul se hoë enjinkap en geronde vorms op krag en die motor se wye spoorwydte gee dit ‘n selfversekerde, byna parmantige voorkoms wat die individualistiese gevoel versterk.
Stilering
‘n Mens sal baie van die motor hou, of glad nie - dit is nie ‘n neutrale of generiese soort motor nie.
Die voorkoms laat dit baie stabiel lyk, wat deur groot voorste ligte en ‘n prominente sierrooster beklemtoon word.
Die agterkant word oorheers deur die saamgestelde ligte, met deursigtige buitelense, wat vertikaal in die paneel gemonteer is.
Die binneruim is prakties en veelsydig. Die Kia-kenteken doen dubbeldiens as ‘n handvatsel vir die agterste luik, wat ‘n tikkie pret verleen.
Die vyfdeur-Kia Soul is op ‘n nuwe onderstel gebou. Soul is die eerste implementering van dié platvorm, wat ook in toekomstige Kia-modelle gebruik sal word.
Die motor het ‘n hele klomp voordele in terme van hantering, ritgehalte, duursaamheid, verfyndheid en veiligheid.
Kia Motors se hoofontwerper, Peter Schreyer, was in beheer van die transformasie van die 2006 Soul-konsepmotor tot die 2009-produksiemodel.
"Die Kia Soul is in die VSA uitgedink, in Korea ontwikkel en verfyn in Europa. Ek glo vas dat die produksieweergawe van dié stedelike oorkruisvoertuig ‘n volwasse ontwerp is, wat sy eie opmerklike styl suksesvol behaal het," het Schreyer gesê.
Kia Motors glo kliënte sal hou van die Soul se stedelike voorkoms in styl, kleur, materiale, bougehalte en afwerking.
Kom ons ry
Die hoë deure en hoog-gemonteerde sitplekke maak dit maklik om in te klim, terwyl die instrumentepaneel, drie-dubbele instrument-samestelling en dik stuurwiel sorg vir ‘n unieke kombinasie van ruimte vir passasiers, en knusheid vir die bestuur-der.
Die stuurwiel is sensitief, maar reageer baie goed op enige spoed sonder om te oorstuur, die bestuurder voel dus in beheer van ‘n ligte voertuig.
Dit is ook altyd ‘n toets om te sien of ‘n motor lekker ry wanneer jy in ‘n stadsone by ‘n lae spoedbeperking moet hou en die Kia bestuur baie lekker en gemaklik in alle situasies.
Die sitplekke is ferm en gemaklik wanneer dit reggestel is vir die bestuurder met ‘n goeie uitsig na die kante.
Die agterruit is effens klein wat toe te skryf is aan die ontwerp, maar die groot tru-spieëls wat ook baie verstelbaar is, vergoed daarvoor.
Die Kia Soul het ‘n sportiewe instrumentpaneel met drie aanwysers wat netjie ontwerp is. Die elmboogruimte is groter en gerieflik aangesien daar nie ‘n middelste konsool ingebou is nie.
Tydens langer ritte sal dit miskien gemis word, maar vir rondrits in die dorp, was die ekstra beweegruimte eerder welkom.
Die instrumentepaneel huisves vier meters - toereteller met ingeboude status-liggies, ‘n groot sentrale spoedmeter met flikkerlig-wysers onder enjintemperatuur en brandstofvlak, asook waarskuwingligte regs.
Die paneel is goed sigbaar met wit syfers en grafiese elemente teen ‘n swart agtergrond.
Alle beheerknoppe is binne maklike bereik van die bestuurder.
Klankstelsel
Die Kia Soul in Suid-Afrika kry ‘n RDS-radio met enkel CD-speler en MP3-vermoë, asook USB-, AUX- en iPOD-konneksies wat dit moontlik maak om jou gunstelingmusiek deur die motor se luid-sprekers te speel.
Die voertuig het ses luidsprekers en beheerknoppies op die stuurwiel.
Die stelsel gebruik tegnologie om die basies uitdaging van ‘n motor-klankstelsel - klein luidsprekers en akoestiek binne - te oorkom, sodat klank van ‘n goeie gehalte gelewer word.
Laai maar in
Die Kia Soul bied uitmuntende laairuimte vir sy grootte - 340 l, wanneer die sitplekke regop gestel is.
Die agterste sitplek kan in ‘n 60/40-verhouding platgevou word sonder om die kopstutte te verwyder.
Die laairuimte wat dan geskep word, kan 570 l baggasie huisves, sonder om sig uit die kantvensters te belemmer en die sitplekke vou byna heeltemal plat.
Spesiale kenmerke
Standaardeienskappe van die Kia Soul in Suid-Afrika sluit die volgende in:
- Allooiwiele van 16 duim met 205/55 R16-bande;
- bakkleurige kanstroke en kantspieëls;
- sentrale sluiting;
- elektriese ruitbeheer voor en agter;
- bestuurder- en passasierslugsakke voor;
- kopstutte en driepunt-sitplekgordels vir al vyf insittendes;
- afstandbeheer vir die petrolklap;
- agterste ruitveër;
- RDS-radio met enkel CD en MP3, AUX, USB en iPod verbindings;
- ses luidsprekers;
- elektroniese kragstuur,
- lugversorging,
- verdonkerde ruite,
- sentrale sluiting,
- ‘battery-oppasser’ om te keer dat die battery leegloop,
- verhitte kantspieëls,
- spesiale bekleedsel met leer vir die stuurwiel en rathefboom,
- ‘n agterste drukvlerk en misligte voor en agter.
Die Soul het ‘n geesdriftige 1.6 liter-petrolenjin wat ‘n goeie kombinasie van krag en ekonomie beloof.
Die enjin is toegerus met veelpunt-brandstofinspuiting en lewer ‘n maksimum van 91.2 kW se krag by 6 300 omwentelinge en 156 Nm se wringkrag by 4 200.
Die Soul is taamlik lig en die vervaardiger gee ‘n versnelsyfer van 10.4 sekondes van stilstand tot by 100 km/h. Die gepubliseerde topspoed is 177 km/h en die wettige sneltheid van 120 km/h word maklik bereik en gehandhaaf op die snelweg.
Die Kia Soul gebruik voorlangs die bekende MacPherson-stutte, wat op die selfde sub-raam as die enjin en ratkas gemonteer is.
Die bestuurder kan die motor maklik stuur en beheer - die stuurwiel is lekker lewendig maar nie oor-sensitief nie.
Veiligheid
Kia se ingenieurs het beslis hard gewerk om te verseker dat dié nuwe motor baie veiligheideienskappe het.
Dit is beskikbaar met ‘n hoë vlak van aktiewe en passiewe veiligheid, om te voldoen aan die groeiende verwagtinge wat verbruikers deesdae vereis.
Die Soul het dubbele lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier as standaard.
‘n Vierkanaal-ABS sluitweerremstelsel met vier sensors is ook standaard. Die stelsel inkorporeer ‘n elektroniese remdrukverspreider (EBD), wat help om die remkrag eweredig tussen die voor- en agterwiele te versprei. Die EBD kan by verskillende wiel-toestande aanpas.
Slotsom
Kia sê hulle is vasberade om ‘n heeltemal nuwe groep verbruikers aan te spreek. Dit sal veral byval vind by jongmense, sowel as mense wat jonk is van gees.
Elke nuwe voertuig uit hierdie deel van die wêreld bou voort op die lesse van die vorige en die Kia Soul moet op sy eie beoordeel word - as jy lus is vir iets anders, kan dit gerus vir die kerngesin of vir rondrits oorweeg word.
Besonderhede
Die Kia Soul sal teen ‘n voorgestelde handelsprys van R189 995 verkoop word en het ‘n 4 jaar of 90 000 km diensplan en ‘n 5 jaar of 100,000 km waarborg.
South Cape Auto in George het die Kia Soul vir die toetsrit verskaf. Vir meer inligting, skakel hulle by 044 878 2844.
.jpg)
.jpg)
TOETSRIT EN ARTIKEL DEUR ANICA KRUGER