MOTORNUUS - As jy ooit in die verbyry gewonder het wie se mooi blou bakkie by die Shell-vulstasie langs die N2 op Riversdal staan - die trotse eienaar is Hennie Lichthart van Albertinia Drankwinkel.
Dis nie sommer so 'n bakkie nie, dis 'n 1948 Chevrolet Master. En hulle soort is skaars. "Die boere in die Groot-Karoo, waar ek die bakkie gekoop het, het altyd die kajuit by die pad neergesit om die melkkanne in te sit, en die bak is gebruik om sleepwaens van te maak."
Hy het die bakkie in 2014 by Danie Swart van die plaas Bitterfontein in die Victoria-Wes-gebied gekoop. Danie het dit twee jaar tevore by sy buurman Koos Swart van Blackstone Plains gekoop, wat dit in 1948 nuut by Vos Garage op die dorp gekoop het.
So het hy eers gelyk...
Hennie Lichthart se 1948 Chevrolet Master staan in die Shell-vulstasie op Riversdal se vertoonlokaal. Foto's: Tisha Steyn
"Na Koos het sy seun Theo Olivier, en na hom sy seun, Jaco dit gebruik. Dit is laas in 1994 vir 'n matriekafskeid gebruik en het al die jare in die skuur gestaan tot Danie dit gekoop het."
Die bakwerk, al wat nog heeltemal oorspronklik is, het geen roesplekke nie, want dit kom uit die dorre Karoo. Hy het self die bolt and nut-restourasiewerk onderneem en die onderdele met sorg uitgesoek. Onder die enjinkap is 'n Chev 305 V8-masjien met 'n Chev 700R4 outomatiese ratkas, 'n Jaguar-voorstel met kragstuur en skyfremme en 'n Jaguar-agterstel, ook met skyfremme. Die sitplekke en binnedeure is van egte leer.
Die sitplek en bekleedsel van die deure is egte leer.
Die oorspronklike bakkie was bruin. "Ek het 'n blou bakkie in 'n oorsese boek gesien en die twee kleure blou met kleurkaarte probeer match." Sy buurman, Vissie Visser en Willem Taute, 'n paneelklopper het gehelp. "En natuurlik was daar my klomp raadgewende vriende wat my met 'n bier in die hand in die garage langs die drankwinkel ondersteun het!"
Hennie is van kindsbeen af lief vir ou motors. "Ons het op Jacobsdal in die Vrystaat grootgeword, maar elke vakansie op Buffelsbaai deurgebring. Daar het ons in 'n 1948 Willy's Jeep kerjakker."
Nee, die een is nie te koop nie!
Sy ander ou voertuie sluit in 'n 1927 Chev Roadster, 1931 Ford Model A-Roadster, 1932 Ford Model A Open Cab-bakkie (wat hy besig is om te registreer), 'n 1935 en 1936 Ford V8-sedan, 'n 1954 Chev-bakkie en 'n 1958 Borgward Isabella. "Almal is oorspronklik, dis dié dat ek bietjie met die blou bakkie gespeel het."
Hy besoek graag die Suid-Kaap-oumotorskou in George, maar het tot dusver nie sy voertuie uitgestal nie. Hy sal dalk eendag aan die toere met ou motors wil deelneem, maar die enigste een wat wil saamry is sy miniatuur Snorkey-hondjie Buksie.
Die Master spog met 'n pragtige kragstuur.
Die bakkie staan die afgelope vier maande in die vertoonlokaal by Frans Myburgh se vulstasie. "Stoorplek is skaars en ek is baie dankbaar dat die bakkie daar kan staan, want met al die ander voertuie is daar nie op Albertinia genoeg plek nie."
Volgens hom trek die blinkmooi blou bakkie baie aandag. "Daar is gereeld mense wat dit vir matriekafskeid of troues wil gebruik en daar was al baie aanbiedinge om dit te koop, maar vir nou is hy myne."
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'