Dawie Roodt, hoof-ekonoom by die Efficient-groep, voorspel die brandstofprys kan met tot 40c per liter verlaag na aanleiding van die verlaging in die internasionale olieprys die laaste paar weke.
Maar dié verlaging gaan nie veel doen om die sowat 15%-verhoging in die pompprys teen te werk waarvoor verbruikers sedert Januarie moet opdok nie. Motoriste gaan diep in hul beursie moet grawe om die vakansiepad te kan aandurf.
"Verbuikers is vuisvoos ná verhoging op verhoging vanjaar en veral die 93c-verhoging in September is nog vars in mense se gedagtes," sê Ricardo Coetzee, woordvoerder vir die korttermynversekeraar Virseker. "Ongeag van die prysaanpassing in Desember sal motoriste steeds sowat R1 meer per liter as verlede jaar betaal wanneer hulle die pad na hul vakansiebestemming aandurf.
So, hoewel 'n verlaging welkom sal wees, sal dit nie veel verligting bied nie. Verbruikers kan dié vakansie meer doen om hul brandstofkoste te besnoei deur 'n brandstofdoeltreffende bestuurstyl aan te leer."
Wenke vir groter brandstofdoeltreffendheid in die feestyd:
- Versien jou voertuig gereeld, veral voor 'n lang reis.
- Vermy harde versnelling en 'n stop-ry-styl, want dan suig jou voertuig behoorlik brandstof.
- Ry stadiger. Hoë spoed verhoog brand-stofverbruik en CO2-uitlate. Teen 110km/h verbruik 'n voertuig tot 25% meer brandstof as teen 90km/h.
- Ry in die hoogste rat moontlik, maar sonder dat die enjin swaarkry. Om teen 60km/h in derde rat te ry is nie so doeltreffend as om dit in vierde rat te doen nie.
- Skakel op die korrekte oomblik na 'n hoër rat oor: Teen 2 500r/min. vir petrolenjins en teen 2 000r/min. vir dieselenjins.
- Handhaaf die snelheid eerder as om dán vinniger dán stadiger te ry. Benut die snelheidsbeheerfunksie op lang reise.
- Werk vooraf die roete na jou bestemming uit en neem die kortste een sodat jy nie ompad ry en onno-diglik brandstof verbruik nie.
- Vermy dit om die voertuig onnodiglik lank te laat luier; dit vermors brandstof. As die verkeer tot stilstand kom, sluit die enjin af terwyl jy wag.
- Moenie met die vensters wyd oop ry nie, ver-al teen hoë spoed, want dit verhoog 'n voertuig se windweerstand en sodoen-de die brandstofverbruik.
- Gebruik die lugreëlaar oordeelkundig. Of dit 'n meganiese of 'n elektriese een is, dit verhoog brandstofverbruik met tot 10%. Maar teen snelhede van meer as 80km/h is dit beter om die lugreëlaar te gebruik as om met die vensters oop te ry.
- Vermy die gebruik van elektriese toestelle soos selfoonlaaiers, want dit verhoog ook brand-stofverbruik.
- Moenie onnodige goed saamry nie. Hoe swaarder die voertuig hoe dorser is hy.
- Maak vol wanneer die tenk half is om te keer dat te veel brandstof verdamp.
- Maak vroegoggend vol wanneer die grondtemperatuur nog laag is. Vulstasies se tenks is ondergronds en hoe kouer die grond hoe hoër is die brandstof se dightheid.
- Maak seker die wielsporing banddruk is korrek .