Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Negejarige slimkop van Pacaltsdorp Primêr het ledige dae tydens grendeltyd goed benut en haar eie boek die lig laat sien. Zoë Bhana, 'n gr.3 leerder, se kinderboek Roxcy se talent, is haar eerste poging om 'n regte storie te skryf. Nou is daar geen keer aan Zoë nie en beplan sy nog 'n paar boeke as deel van 'n Roxcy-reeks.
Die storie handel oor 'n meisie, Roxcy, wat op skool geen merkwaardige talente toon nie. Roxcy word egter gedwing om aan 'n talentkompetisie by haar skool deel te neem, waar sy haar sangtalent ontdek en almal - insluitend haarself - verbaas.
Die hoofkarakter word op skool aan boelie-gedrag blootgestel en binne hierdie milieu moet sy haar eie identiteit vind.
Volgens die skrywer se ma, Stacey, identifiseer haar dogter met die hoofkarakter, aangesien Zoë ook op skool deur 'n klasmaat oor haar postuur geboelie is.
"Die voorvalle het in gr.1 en gr. 2 gebeur," het Stacey gesê. "Zoë het deur 'n baie moeilike tyd gegaan. Sy het op 'n stadium vir my gesê: 'Al wanneer ek tuis voel is wanneer ek my werk doen. Wanneer ek kan lees en skryf.' Sy het in haar boeke ontvlug."
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Dié jong presteerder van Pacaltsdorp blink uit op skool en het verlede jaar top akademiese pryse ingepalm. Sedert gr.1 lees Zoë so veel moontlik en haar ouers moet voortdurend die biblioteek besoek.
"Sy was maar ses jaar oud toe lees sy die kerkprogram van voor tot agter. Tydens grendeltyd het sy verveeld geraak, want haar boeke is klaar gelees. Haar oupa, Lionel Fortuin, 'n onderwyser van Hoërskool Concordia in Knysna, het haar aanbeveel om haar eie boek te skryf," het Stacey vertel.
'n Kollega van Fortuin, Gezwill Percy, het die boek geillustreer en gehelp met drukwerk. Die parlementslid Laetitia Arries, Zoë se pa se tante, is so beïndruk met die boek, sy wil dit graag aan die onderwysdepartement voorlê. Volgens Stacey beoog hulle om Zoë se boek in verskillende tale te vertaal, aangesien baie kinders daarby sal baatvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'