Sy moes mooi praat om haar posisie oorkant Absa te behou, aangesien dit maar broekskeur gaan met die Zenzele-vrouegroep se finansies.
Gelukkig is hulle tegemoet gekom met ’n donasie van R182 deur William Juries, die klankman van die Patria-gemeente, om hul stalletjie tot die einde van die maand te behou. Dit gee hierdie ywerige vroue ‘n kans om ‘n ekstra inkomste te verdien uit die verkoop van handgemaakte items, tweedehandse klere, linne en allerlei snuisterye.
Die Zenzele-projek is spesifiek daarop gemik om werklose vroue van Blanco te help om ‘n inkomste te genereer deur die vervaardiging van kunshandwerk.
Die woord ‘Zenzele’ is Zulu vir ‘doen dit self’. Die onderneming het ‘n gebou in Golden Valley, in Blanco, wat as ‘n fabriek en dagsorgsentrum benut word, maar ook binnekort ingespan sal word as ‘n namiddagsorgsentrum vir skoolkinders.
Kinders van die area is reeds op ‘n voedingskema by die Zenzele-sentrum waar hulle sop, brood en koeldrank ontvang.
Genie en haar span is dringend op soek na borge vir ‘n afdak by die sentrum en ‘n vloer vir die gebou waar die dagsorg aangebied word.
Vir meer inligting oor die Zenzele-groep se werksaamhede, donasies of ‘n besoek, kontak Genie by 072 803 9279 of besoek hul stalletjie op ‘n Donderdag en Vrydag van 10:00 tot 16:00 en op ‘n Saterdag van 09:00 tot 13:00.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Zenzele bied ‘n voedingskema vir kinders van Golden Valley.