Kamera se battery gelaai, geheuekaart is skoon, alles in die rugsak, bike blink en daar vat ons die pad van George na Mosselbaai. Dis nou een ding, 'n biker skrik nie vir water nie, want vandag gaan ons natreën.
Die weer dreig-dreig om te reën. Dis donker en die kamera se verstellings wil nie eers die donker wolke ‘n silwer randjie gee nie. Dit was ook nie lank nie of dit begin reën. Teen 11:00 is sowat 2 000 ryers gereed om aan die massarit deel te neem. Die reën het die res biertent se kant toe gedryf. Dis waar die dinge gebeur, en as jy daar 'n tafel en ‘n stoel het, dan sit jy jou sit.
Ek verstom my aan die rustigheid by hierdie jaar se Buff. Die manne met die Suzuki’s is rustig en stil. (Dis gewoonlik hulle wat die motorfietse se revolusies tot in die rooi laat klim. Ek merk ook op dat die manne en vroue wat op die terrein rondloop nou nie van die jongste is nie. Dit was nogal baie opvallend - waar was al die jonges? (Miskien is die Buff vir hulle outyds soos die musiek van John Lennon en ACDC. )
Nietemin was dit 'n suksesvolle saamtrek met sover bekend geen ernstige ongelukke nie. Daar was hierdie jaar 4 800 inskrywings teenoor die 4 680 van verlede jaar. Die manne het hulle goed gedra en volgende jaar maak ons weer so!
Na die massarit is dit tyd vir afsaal en kuier voor die biertent.
Des Pistorius en sy hond, Boswell op die Honda Goldwing wat reeds 1 230 000km op die klok het.
ARTIKEL EN FOTO'S: EMSIE MARTIN