WES-KAAP NUUS - Verteenwoordigers van politieke partye in die Wes-Kaap het oor die algemeen pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verwelkom dat kiesers op 27 Oktober hul kruisies sal kan trek vir nuwe plaaslike owerhede.
Die Wes-Kaapse regerende party, die DA, swaai tans die septer in 10 stadsrade in die oosstreek en is in 'n koalisie in nog een.
Vrae word egter gevra wat die DA gaan doen om stemme te werf, want die party is duidelik onder groot druk. Daar was die afgelope tyd aanduidings van steundaling in sommige munisipale tussenverkiesings, insluitend in Knysna waar die ANC die DA in Hornlee in die afgelope tussenverskiesing in Wyk 11 'n groot nederlaag laat ly het.
Wat gaan die DA doen?
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, sê die party streef daarna om die party van regering te wees. Daar is uitdagings, maar dit is nie net die DA wat daarmee te doen kry nie. Die wyse waarop sekere politieke partye hul veldtogte voer, skrik kiesers af.
Volgens Simmers word veldtogte van rassisme en disinformasie gevoer. In plaas daarvan om te sê wat hulle gaan doen, word die karakter van openbare verteenwoordigers van die DA en ander partye afgebreek. Die DA het 'n plan van aksie. Dit is nie gebaseer daarop om die karakter van lede van ander partye af te breek nie.
Die DA gaan wys hoe hy kop en skouers uitstaan bo ander munisipaliteite. Die party sal sy diensleweringsrekord wys, soos byvoorbeeld in George. Al was daar moeilike omstandighede het dienslewering nooit stilgestaan nie.
Partye oor kiesdatum
Simmers het gesê die kies-datum bring 'n einde aan spekulasie oor die hou van die verkiesing. Die DA is in die proses om sy kandidate te finaliseer en behoort in Mei sy burgemeesterskandidate aan te wys.
Brett Herron, sekretaris-generaal van Good
Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, is seker dat sy party baie goed sal doen en sê die Wes-Kaap gaan 'n brandpunt in die komende verkiesing wees. "Ons sien daarna uit om te wys hoe Good gegroei het sedert sy ontstaan twee jaar gelede."
Major Sikopo, streeksekretaris van die ANC
Major Sikopo, streeksekretaris van die ANC in die Suid-Kaap, het kiesers in die streek gevra om die party 'n kans te gee.
Hy het mense ook gevra om as kiesers te registreer as hulle dit nog nie gedoen het nie.
Johan du Toit van die ACDP, het gesê Covid-19 stel bepaalde uitdagings. Dit gaan langer neem as gewoonlik om te stem. Die vraag is of almal op een dag sal kan stem.
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse VF Plus-leier, het gesê dit is nog ses maande tot die verkiesing en dit is meer as voldoende tyd vir politieke partye om hul huise in orde te kry en te presteer. Hy het volle vertroue dat die Onafhanklike Verkiesings-kommissie (OVK) 'n veilige verkiesing sal kan hou.
Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die EFF
Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die EFF, het gesê die party het die OVK gevra om die verkiesing uit te stel omdat dit in die huidige omstandighede voortydig is.
Die Covid-19-pandemie bestaan steeds en is lewendig. Die party laat hom ook lei deur die Grondwet van die land.
As wetgewing dit moontlik maak om 'n verkiesing te hou, sal die party gereed wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'