GEORGE NUUS - As 'n vars "inkommer" in George is Leon Botha van Mpumalanga aangenaam verras oor die toestande en infrastruktuur in George.
Hier skryf hy waarom:
As 'n nuweling tot die George-gemeenskap komende van Mpumalanga het ek die voorreg gehad om my eerste maand in Desember 2018 in George deur te bring. Ons was egter ongelooflik verbaas rondom die kwaliteit van standaarde wat op die strande teenwoordig was 24/7. Met ons besoeke daagliks aan Heroldsbaai, Glentana, ens. was dit absoluut verstommend om die volgende te ervaar:
1) Ablusiegeriewe - Die infrastruktuur was onberispelik klinies. Voorts moet die skoonmaak-personeel gekomplimenteer word met hulle vriendelike en tegemoetkomende gedrag. Altyd stralend en 'n glimlag vir ons feesgangers.
2) Sekuriteit - Dit was opvallend hoe diplomaties dog ordelik sekuriteitspersoneel feesgangers deurgaans gehanteer het. Die vriendelike en ordelike versoeke aan individue om die ou vogwatertjies te verwyder van strande het als in 'n goeie gesindheid plaasgevind.
3) Strande - Dit was 'n riem onder die hart om te sien hoe strande deurgaans skoon gehou is. Dit was ook opvallend hoe die gemeenskap gehelp het met opruiming van rommel op en langs die strande… 'n pluimpie vir julle ook!
4) Swemarea beheer - Vir alle lewensredders… dankie, dankie, dankie. Julle vrywillige en vriendelike diens in die periode was skitterend en van internasionale standaard.
5) Verkeersbeheer - Dankie aan die verkeer- en polisiedepartemente vir julle vriendelike, maar ordelike beheer.
Daar word dikwels so onnodig negatief na werksaamhede van munisipaliteite verwys. Dis tyd dat ons as gemeenskap erkenning gee op alle vlakke aan die rol wat alle departmente gespeel het om die afgelope feesseisoen so vlot te laat verloop.
Graag versoek ons vriendelik dat die George Herald 'n artikel in die verband aan die gemeenskap van George lewer.
Vriendelike groetnis en voorspoed vir 2019 en sy uitdagings.
(So versoek, so gedaan! Red.)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'