TUINROETE NUUS - Daar is tans nie genoeg voorraad van orale voorbehoeding, in die Tuinroete-distrik nie, sê die departement van gesondheid. Nadia Ferreira, 'n woordvoerder van die departement in die distrik, sê daar is egter voorraad van ander voorbehoedmiddels.
"Pasiënte sal dus 'n ander vorm van voorbehoeding kan gebruik, soos bespreek in konsultasie met die verpleegpersoneel."
Ferreira sê hulle is bewus daarvan dat 'n toenemende aantal kritieke medisyne (wat sommige voorbehoedmiddels insluit) nie beskikbaar is nie, of slegs beskikbaar is in klein hoeveelhede.
"Dit veroorsaak baie frustrasie vir ons personeel en ons pasiënte. Ons kommer is uitgespreek teenoor die nasionale departement van gesondheid waar die nasionale tenders vir medikasie bestuur word. Ons is ingelig dat hulle aan die probleem werk."
Sy sê hulle rig 'n versoek aan al hul pasiënte om asseblief van alternatiewe vorms van voorbehoeding wat by klinieke beskikbaar is, gebruik te maak.
"Gebruik asseblief ook altyd 'n kondoom wanneer jy gemeenskap het. Kondome is ook gratis en vrylik beskikbaar by al ons klinieke."
Pacaltsdorp-polisie sê hulle doen hul deel in die voorkoming van MIV asook ongewenste swangerskappe in die tyd waar daar 'n tekort aan voorbehoedmiddels is.
Ook Pacaltsdorp-polisie doen hul deel in die voorkoming van ongewenste swangerskappe asook MIV-voorkoming. Ronelle Opperman wat 'n MIV-jeugberader by die polisiestasie is, sê hulle maak altyd seker dat hul kondoomblik by die ingang van die dienssentrum vol is.
Ferreira sê hulle moedig hul kliënte aan om voor hulle seksueel aktief is, reeds te besluit wat hulle sal gebruik om ongewenste swangerskappe te verhoed.
"Ons kundige verpleegpersoneel sal dan volgens die kliënt se voorkeure saam met hulle help besluit wat die beste sal werk."
Volgens haar sluit voorbehoeding wat tans deur die departement aangebied word in die orale pil, die inspuiting (2 of 3 maandeliks), die Implanon, die IUD, sterilisasie, kondome en noodkontrasepsie wat beskikbaar is by alle klinieke en hospitale.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'