Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die inwoners van Moeggeploeg in Pacaltsdorp het verlede Woensdag 'n dringende gemeenskapsvergadering gehou, na hul onwettige kragaansluitings die vorige dag deur die munisipaliteit met ondersteuning van die polisie, verwyder is.
Die leierskap het aan George Herald gesê die wat George-munisipaliteit aan hulle gedoen het, was onregverdig. "Om net drade uit te trek en ons elektriese toestelle so te beskadig was onnodig."
Die munisipaliteit, met die ondersteuning van die polisie, het Dinsdagoggend opgeruk na Bluegumstraat en glo net begin om drade uit die grond te trek, elektriese kabels by huise uit te trek en konneksies los te sny.
Die gemeenskap sê hulle was opstandig omdat hul besittings beskadig is.
"Indien hulle ons vooraf laat weet het, of mooi gevra het om die konneksies los te maak, sou dinge vreedsaam verloop het," het een van die leiers gesê.
Lorenzo Bredenkamp en Rudi Ruiters, twee inwoners was ook ontsteld oor die berig wat George Herald publiseer het. Hulle sê hulle is nie genader vir hul mening nie, wat die artikel volgens hulle eensydig maak. Ook meen die groep inwoners dat hul aansluitings nie eens 'n duik maak in die kraggebruik van die area, soos wat sekere klaers dink nie. Hulle sê daar is 75 huisgesinne, en nie almal het elektrisiteit nie.
Inwoners vra dat die munisipaliteit om kragbokse aan hulle te verskaf, wat die steel van krag sal stop.
"Ons het net soos ander mense krag nodig. Ons beskou dit as 'n basiese noodsaaklikheid, soos water en riooldienste."
Kyk 'n video hieronder:
Munisipaliteit kommentaar
Chantel Edwards-Klose, George-munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, sê hulle reageer, maar wat die inwoners van Moeggeploeg gedoen het, bly onwettig, en dit bly 'n kriminele oortreding. Edwards-Klose sê daar word ook in ag geneem dat die inwoners hierdie grond beset sonder toestemming.
Die munisipaliteit het verlede jaar met die erge reen, water weggepomp, toegangspaaie is verbeter en daar is G7 gegooi. Daar is ook gunplast verskaf om te help teen die reën.
Daar is inspeksies gedoen om die strukture te ondersoek.
Rakende die geld wat beskikbaar is, die munisipaliteit het wel fondse gekry, maar vir die oprig van tydelike strukture. "Die fondse is nie geallokeer vir strukture vir Moeggeploeg nie, maar liewer vir 'n TRA waarvoor die beplanning reeds in die proses is. 'n TRA is 'n area waarheen mense tydelik verskuif word, hulle kry strukture asook dienste."
Edwards-Klose sê voor enige area elektrifisering kan kry, moet daar eers infrastruktuur in plek wees. "Na infrastruktuur is plek is, dan kan individuele huise of strukture elektrisiteit kry."
Sy noem dat daar sowat 7 000 informele strukture in George is, en dat dit tussen R10 000 en R13 000 per struktuur sal kos om elektrisiteit aan elk te verskaf.
"Dit gaan die munisipaliteit tussen R70 en R91 miljoen kos om almal te diens, wat nie moontlik is nie."
Volgens die munisipaliteit is geen onwettige konneksie veilig nie. Sy verduidelik dat sodra 'n elektriese konneksie vanaf 'n munisipale netwerk, sonder hul toestemming, gemaak is dan is dit onwettig. Die elektriese infrastruktuur wat in plek is, sê Edwards-Klose, is net vir 'n sekere aantal huishoudings in 'n area op 'n gegewe tyd.
Sodra 'n onwettige konneksie gemaak word vanaf daardie bepaalde infrastruktuur, dan lei dit tot oorlading van toestelle, hele sisteme wat blaas of afslaan en lei ook tot toerusting wat aan die brand slaan.
Die munisipaliteit sê die onwettige konneksies is 'n veiligheidsrisiko vir 'n ongekwalifiseerde persoon asook kinders en diere wat die risiko loop om geskok te word wat kan tot hul dood or ernstige beserings kan lei. Ook sê hulle toestelle kan nie beskadig word as dit uit 'n elektriese punt verwyder word, soos wat gedoen is toe die onwettige konneksies afgesny is nie.
Hulle sê daar word herhaaldelik gekla oor toerusting wat beskadig is as gevolg van onwettige konneksies in verskeie areas in George.
Edwards-Klose sê dit is baie moeilik om te sê hoeveel eenhede beskadig word of heeltemal tot niet is omdat daar onwettige konneksies is, maar die skade beloop by die duisende rande.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'