Hierdie is een van vele nuttige wenke wat verlede Vrydag, tydens Wêreld Omgewingsgesondheidsdag, met 'n handjievol inwoners van Syferfontein gedeel is. Eden-distriksmunisipaliteit, in samewerking met George-munisipaliteit, het 'n inligtingsessie in die gemeenskapsaal van die informele nedersetting gehou.
Die bekamping van tuberkulose (TB) en diarree, voedselveiligheid, algemene gesondheid en higiëne, sowel as die bestuur van afval, was onder bespreking.
Alhoewel die inwoners nie oor spoeltoilette beskik nie, is hulle toegerus met eenvoudige raad oor hoe om hul omgewing 'kiemvry' te hou. Carike Soman van Eden-distriksmunisipaliteit het aan die gehoor verduidelik dat 'n mens se liggaam die ideale omgewing is vir kieme, want dit is klam en warm.
"Ons gaan julle leer hoe om kieme dood te maak," het sy gesê. Soman het onder meer 'n demonstrasie gegee oor hoe om jou hande ordentlik te was.
Sowat 90% van die siektes wat die kinders van Syferfontein kry, kan verhoed word, het Clive Africa, die uitvoerende bestuurder van Eden-distriksmunisipaliteit se bestuursdienste, aan inwoners gesê.
Africa het met die mense gesimpatiseer en gesê dat hy self al familielede aan die dood afgestaan het, omdat hulle vuil water gedrink het.
"My ma is 'n bediende. Ek weet wat dit is om van mense se tafels af te lewe," het Africa gesê.
David Papier, 'n gesondheidsinspekteur van Eden-distriksmunisipaliteit, het die mense aangemoedig om trots te wees op hul omgewing, al woon hulle in Syferfontein.
"Laat iemand anders maar praat as hulle wil, maar dit is jóú blyplek, jy mag trots wees daarop," het hy gesê.
Inwoners is aangeraai om die George-munisipaliteit te laat weet indien hulle toilette oorvol is, of indien hulle ander omgewingsgesondheidsprobleme ondervind.
Klik hier vir fotogalery.

Elizna Barnard (links) en Francois Koelman (regs) van Eden-distriksmunisipaliteit se munisipale gesondheidsafdeling, het met 'n groepie ma's gesels gedurende hul uitreikaksie by Syferfontein. Die inwoners is Maria Adonis met haar seun Carlo (10 maande), Leonie Meyer en haar dogter Meagan (2) en Elsie Manuel en haar dogter Sue-Ellen (agt maande). Foto's: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'