GEORGE NUUS - 'n Gesamentlike operasie deur die Conville-buurtwag, ADT, Fidelity, Isidingo, MSec en LVDS Vrydag- en Saterdagaand was baie suksesvol.
Volgens die buurtwagvoorsitter, Rudy Lewis, is 'n klomp wapens en ook dwelms gekonfiskeer. "Ons het ook 'n speelgoedgeweer afgeneem van 'n skoolseun wat klaarblyklik in misdaad gebruik sou word. Toe hy die patrollie sien, het hy die geweer dadelik weggegooi.
"Ons wil die breër gemeenskap bewus maak van die gevare in ons strate en hulle vra om met ons hande te vat om misdaad effektief te bekamp. Hoeveel misdade kon nie gepleeg gewees het met die wapens wat ons afgeneem het nie? Ons buurtwag lewer 'n groot bydrae tot ons gemeenskap se veiligheid en ons nooi belangstellendes uit om hulle gewig by ons in te gooi in ons poging," sê Lewis.
Hy het reservis-konst. D Esau uitgesonder wat so toegewyd is teenoor die buurtwag, dat hy ten spyte van sy siekte, die naweek saam met die buurtwagte rondbeweeg het.
"Ek wil ook Wayne Grose van Fidelity bedank vir sy hulp en toegewydheid teenoor die buurtwag en gemeenskap deurdat hy van Mosselbaai af ry met sy privaat voertuig om ons by te staan. Bidvest Security moet ook bedank word vir hul bystand, al kon hulle weens onvoorsiene omstandighede die afgelope naweek nie deelneem nie.
"Ek wil vra dat ons gemeenskap die buurtwaglede sal waardeer. Hulle staan op in die nagtelike ure en koue om die diens gratis te lewer. Een van die lede maak van sy eie vervoer gebruik. As daar mense is wat graag 'n bydrae wil lewer in terme van finansies om ons taak te vergemaklik, sal dit baie waardeer word," sê Lewis
Die buurtwag vra vir borgskap van handradio's, flitse en uniforms om hulle in hul werk te ondersteun.
Bel Rudy Lewis by 061 977 6098 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'