GEORGE NUUS - Diegene wat hul voertuiglisensies binnekort wil hernu moet dalk oorweeg om 'n dag verlof te neem.
Hoopvolles wat vanoggend skuins voor 08:00 reeds voor die hoofhek na die lisensiekantoor aan die onderpunt van Hiberniastraat gewag het, kan hul regmaak vir 'n gemiddelde wagtyd van vier ure.
'n Persoon wat gister na 'n drie ure wagtyd nie voor toemaaktyd geholpe kon raak nie, het vanoggend maar weer probeer. "Ek is een van 80 mense in die sigbare ry vanaf die deur tot op die gras langs die parkeerarea," het hy gesê. "Op 'n stadium, gister, is vier mense in 'n uur gehelp. Die probleem is daar is 'n tweede ry vir mense ouer as 65, wat ook gehelp word en voorkeur kry. 'n Mens kan dit verstaan. Dit is net uiters frustrerend om so te wag."
'n Ander frustrasie is die feit dat diegene wat te voet die lisensiekantoor bereik het, letterlik moet hardloop vir die ry wanneer die hekke soggens oopgaan. Die wat met hul motors ry is vinniger by die kantoor en dus verder voor in die ry.
"Dis absolute chaos," het 'n vrou wat ook vandag vir haar lisensie wag, gesê.
Ofskoon daar wel 'n opsie is om lisensies aanlyn te hernu moet dit steeds afgehaal word by die kantore, of gepos word. "Ek wil nie die kans vat dat die lisensie in die pos verlore gaan nie," het een van die wagtendes in die ry gesê.
Kommentaar van George-munisipaliteit word afgewag.
Hoopvolles vanoggend voor die voertuiglisensiekantoor in Hiberniastraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'