GEORGE NUUS - 'n Nuwe inwoner van George wou onlangs effe geïrriteerd weet waarom die naam 'Eden' alewig in die benaming van plaaslike besighede en plekke gebruik word.
Hy is daarop gewys dat die Tuinroete-distriksmunisipaliteit voorheen as Eden bekendgestaan het, en dit is waarskynlik die rede vir die gewildheid van die naam.
George Herald het interessantheidshalwe by die distriksmunisipaliteit aangeklop om meer te wete te kom oor die geskiedenis van die owerheid se naam. Volgens senior kommunikasiebeampte, Marlene Nqumse, het dit vroeër as die Tuinroete/Klein-Karoo-distriksmunisipaliteit bekendgestaan toe 'n voormalige burgemeester, Andy Lamont, met die gedagte gekom het dat die area met die 'Tuin van Eden' vergelyk kan word.
Lamont het 'n naamsverandering na Eden-distriksmunisipaliteit voorgestel, wat in Desember 2002 ingevolge die Strukturewet goedgekeur is.
Handelsmerkverwarring
Daar is egter oor die jare besef dat daar handelsmerkverwarring was en dat dit moeilik was om toerismebemarking te doen onder die naam Eden. Ongeveer 15 jaar het verloop voordat daar tydens 'n raadsvergadering in Desember 2017 weereens 'n voorgestelde naamsverandering goedgekeur is - hierdie keer van Eden- na Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Nqumse sê daar was verskeie motiverings vir die voorgestelde naamsverandering, onder andere dat die naam Eden verwarring geskep het onder beleggers regoor die wêreld, aangesien daar elders ook 'n munisipaliteit met die naam Eden is.
"Die gevoel was dat die distrik 'n wêreldbekende toeristebestemming is en dit moes daarom uniek wees in sy identifikasie.
"Daar was bewyse dat baie mense buite die Eden-distrik nie verstaan het wat die woord 'Eden' in die konteks van ons munisipaliteit beteken het nie.
"Vanuit die oogpunt van 'n mededingende toerismebemarkingstrategie, was dit ook moeilik om 'n handelsmerk in die oorversadigde toerismemark te bevorder."
Sy sê om 'n publieke persepsie oor 'n handelsmerk te skep, neem baie tyd en moeite in beslag. Die raad het gevoel dat verskeie buitelandse markte reeds bewus was van die naam Tuinroete as gevolg van die toerismehandelsmerk, Garden Route & Klein Karoo. Bemarking onder hierdie handelsmerk sou dus makliker wees.
Tuinroete-biosfeer
Verder was die distrik in daardie stadium reeds deur Unesco tot 'n internasionale biosfeer verklaar onder die naam Tuinroete-biosfeer. Dit is 'n baie gesogte erkenning wat die raad gevoel het gebruik kon word om ekonomiese groei in die streek te bevorder.
"Laastens, wanneer jy op die Internet soek na 'Tuinroete', is baie inligting oor toeriste-aantreklikhede, akkommodasie, ens. beskikbaar, maar onder die naam 'Eden' is die inligting baie meer beperk. Die naam Tuinroete is 'n gepaste, beskrywende naam vir die skoonheid van ons streek."
Tuinroete-inwoners is voorwaar bevoorreg om van sulke asemrowende natuurskoon omring te wees.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’