Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Beide Charlotte Clarke en Rosina Ruiters is vroue wat die belangrike politieke leiersposisie van onderburgemeester by hul onderskeie stadsrade en munisipaliteite beklee.
Hulle het beide kantore in George, maar van stilsit ken hulle nie en voel sterk oor die rol van vroue.
Hulle het met Eugene Gunning van die George Herald gepraat aan die vooraand van Vrouedag, 9 Augustus.
Charlotte Clarke, onderburgemeester van die George-stadsraad
Clarke het in Februarie 2018 onderburgemeester geword en is 'n bekende in die gemeenskap. Sy was vir 'n aantal maande sonder 'n sekretaresse en deesdae help Rose Munro haar.
Sy weet wat dit beteken om "onder" te begin. In 2006 het sy tydelik ingestaan vir iemand en byvoorbeeld tee vir raadslede en amptenare gemaak. So het sy haar voet in die deur gekry en dit met toewyding gedoen. Sy het gevorder en later aktief die politiek betree.
Clarke se werksbenadering is om nederig te wees en 'n voorbeeld te stel. Volgens haar behoort daar meer vir vroue gedoen te word. Die realiteit is dat dit in die stadium nog baie moeilik vir vroue is om deur te dring tot senior posisies. Sy glo Vrouedag moet eintlik 'n dag wees waar vroue bemagtig word met vaardighede en kennis. Dit is tyd dat vroue hul regmatige posisies in die samelewing inneem.
Rosina Ruiters, onderburgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit
Ruiters het in 2016 onderburgemeester geword. Sy is ook die wyksraadslid vir wyk 13 in die Mosselbaai-stadsraad. Benewens haar politieke betrokkenheid, is sy ook in die gemeenskap betrokke onder meer as sekretaris van die Titans-rugbyklub op Mosselbaai. Sy het ook sitting op die streekbestuur van die SWD-rugbyunie.
Voor haar politieke betrokkenheid was sy in die siviele-konstruksiebedryf betrokke. En ja, mans was destyds maar skepties dat 'n vrou in die bedryf betrokke is. Dit het haar egter nie afgesit nie en sy het kursusse gedoen. In 2007 het sy selfs 'n toekenning van die Wes-Kaapse departement van openbare werke gekry.
Ruiters meen mans is in die verlede bevoordeel, maar dinge het intussen begin verander. Ook in die politiek. In die DA, waarvan sy lid is, kom vroue meer tot hul reg.
Volgens Ruiters moet vroue in gedagte hou dat hulle 'n besondere rol kan speel. Hulle is sensitiewe wesens. Sy sê Vrouedag is nodig en vroue moet opstaan vir hul regte.
Kyk 'n video hieronder.
Rosina Ruiters, onderburgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit in haar kantoor. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'