GEORGE NUUS - Die tema van die Outeniqua Dames Aktueel se laaste vergadering was 'Hoop het vleuels'.
Jeanette de Klerk het vertel dat haar seun, Jaco, weke lank in 'n kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid was na 'n groot motorongeluk. Jeanette het langs sy bed gebly, gelees, gebid en gesing ten spyte daarvan dat herstel feitlik onmoontlik was. Na agt weke moes hy leer loop en kon hy nie praat nie.
Jaco word oorgeplaas George toe en sy ma versorg en rehabiliteer hom met eindelose liefde en geduld. Sy leer hom alles van voor af van stadium 4 jaar oud. Dit was vir drie jaar.
Hy is nou 20 jaar oud. Jaco het verlede jaar 'n kursus gedoen waarin hy 100% vir sy prakties en 70% vir sy teorie gekry het en nou werk hy.
Michelle Jenkins, 'n arbeidsterapeut by Adult Counselling, het die totale wanhoop na die verpletterende tyding van 'n ongeneesbare siekte soos Parkinsonsiekte geskets, maar haar boodskap was een van hoop.
LSVT Loud is 'n nuwe effektiewe spraakterapieprogram wat fokus op die volume van spraak van Parkinsonsiekte-lyers. Daarna is LSVT Big ontwikkel wat die brein leer om nuwe bewegingspatrone te vorm.
Hierdie twee behandelings vind oor vier weke met vier sessies per week en tuisoefeninge plaas. Balans en liggaamsrotasie verbeter en lyers loop vinniger en met groter treë.
Julie Symmonds se dansskool in Somerset-Wes het met die wonderlike 'Dans vir Parkinsonsiekte' begin wat wondere verrig vir Parkinsonsiekte-lyers. Sy lei landwyd persone op om daarmee te help.
In George het Mariana du Preez 'n ondersteuningsgroep vir Parkinsonlyers en hulle versorgers gestig wat elke tweede Donderdag van die maand vergader. Daar is dus hoop.
Outeniqua Dames Aktueel se volgende vergadering vind op 24 April om 19:00 by Emmaüs plaas. Die hekke sluit stiptelik om 19:00. Die tema van die aand is 'Redding in teëspoed'.
As sprekers tree op kaptein Jansen van Vuuren oor veiligheid in George en die traumaberader, Louis Hough oor 'Hoop na trauma'.
Besoekers is welkom teen R30. Vir meer inligting, kontak Madgaleen Smook by 044 873 6568 / 074 977 1986 of Louie Meyer by 044 874 6523 / 084 525 2130.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'