GEORGE NUUS - AfriForum Jeug se George-tak het op 19 Augustus in samewerking met Krav Maga George ’n opleidingsessie in selfverdediging vir vroue aangebied.
Joe Geldenhuys het sowat 30 vroue met Krav Maga-tegnieke opgelei om hulself teen aanvallers te verdedig. Die sessie het bestaan uit drie basiese tegnieke wat die basis van selfverdediging behels.
Die tegnieke fokus nie net daarop oor hoe om aanvallers te ontwyk nie, maar ook oor hoe om uit ’n vasgepende posisie te ontsnap en die aanvaller in die proses buite aksie te laat.
Jana Naudé, voorsitter van AfriForum Jeug se George-tak, sê die dag se opleiding was baie waardevol en dat hulle beplan om nog baie sulke geleenthede vir die gemeenskap aan te bied.
“Dit is gerusstellend vanuit die goeie opkoms om te weet dat ons gemeenskap ’n diepe besef vir die belangrikheid van veiligheid en paraatheid het.”
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het AfriForum Jeug se George-tak bedank vir die hoop wat hulle skep en die verskil wat hulle maak.
“Hierdie tak beplan ook ’n sokkie-aand vir 21 Oktober, waarvan ’n gedeelte van die wins vir SA for Hope se volgende uitreik aangewend sal word. Ons is baie opgewonde oor die kunstenaars wat dié aand gaan optree. Dagboek sommer nou al dié datum en volg ons Facebook- en Instagram-blad vir meer inligting,” sê Erasmus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’