Gallery
GEORGE NUUS - 'n Vrou met 'n warm hart vir haar gemeenskap in Blanco het vanjaar, soos elke ander jaar oor die laaste dekade, vroue met geskenkpakkies vol lekkernye verras.
Sowat 70 pakkies is vanaf Sondag 8 Augustus tot Maandag 9 Augustus, Vrouedag, aan inwoners uitgedeel.
Deirdré Fernandez verrig hierdie edele taak met die grootste vreugde.
"Dit is so lekker om te gee," het sy gesê. Haar inisiatief word jaarliks ondersteun deur haar vriende (met spesiale verwysing na Emerentia Kiewiets), familie, haar werkgewer, Marnol Projects en George-munisipaliteit se afdeling vir sosiale ontwikkeling.
Fotogalery: Vrouens van Blanco word bederf
Vanjaar het die vroue pragtige pakkies ontvang met die hulp van die Vereniging van Mond- en Voetskilders, vol beskuit, koekies, sjokolade en hande-room.
Sommige het wol en breipenne en kniekombersies ontvang.
Fernandez is van plan om vir die duur van Vrouemaand elke Sondag by kerke in Blanco nog geskenkpakkies aan vroue uit te deel.
"Jaarliks hou ons 'n ete vir vroue om hul vrouwees te vier. Ongelukkig kon ons sedert die pandemie nie hierdie tradisie volhou nie. Ons hoop om dit volgende jaar wel te kan bybring," het Fernandez gesê.
'n Bederfie vir die dames van die Caltex-vulstasie in Blanco: Deirdré Fernandez (links), Deidré Daniels, Philreda Simpson, Lilian Carolus, Rouxlandie Cloete en Ejustley Boshoff.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'