GEORGE NUUS - Een van die slagoffers van die tragiese helikopter-ongeluk Vrydag (14 Mei) by die Vaaldam, in Gauteng en die Vrystaat, Dané Esterhuysen was van Wilderness. Die helikopter, ‘n Robertson-44 het in die Vaaldam neergestort.
Esterhuysen was saam met haar broer, Jacobus (Essie) Esterhuysen. Beide broer en suster en twee honde het gesterf.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is in die stadium nog nie bekend nie en die Burgerlike Lugvaart Owerheid het met ‘n ondersoek begin.
Wyle Dané se dogter, Géla le Roux het vanoggend aan die George Herald bevestig dat haar ma in die ongeluk gesterf het. Dané het die gastehuis, Wilderness Beach Lodge, wat aan haar broer behoort het, namens hom bedryf.
Sy het vir haar broer en sy vrou Mariana in Bassonia in Johannesburg gaan kuier. Hulle was oppad na Esterhuysen se huis by die Vaaldam toe die ongeluk gebeur het.
Le Roux, ‘n inwoner van George, was die Mev. Suid-Afrika titelhouer in 2018. Benewens Géla, is daar ook nog drie broers. Volgens haar het haar oom haar ma vir ‘n bederfuitstappie geneem.
“Dis baie tragies en hartseer. Ons probeer sterk staan, maar dis baie moeilik. My ma en my oom was baie na aan mekaar. Ons is ‘n baie hegte familie.”
Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'