GEORGE NUUS - 'n Amptenaar van George-munisipaliteit was verlede Vrydag 29 Maart in 'n motorongeluk op die N2 betrokke.
Sy eggenoot het in die ongeluk gesterf.
Peet Ruiters (59) en sy vrou Linda (58) was onderweg na Kaapstad toe 'n motorband van hul Colt-bakkie tussen Swellendam en Riviersonderend gebars het.
Linda Ruiters is op die toneel dood, terwyl haar man na die Swellendam-hospitaal geneem is.
Peet Ruiters, 'n klerk by die departement finansies, is intussen oorgeplaas na die Mediclinic Paarl.
Die ongeluk het Vrydagmiddag omstreeks 16:15, sowat 25 km van Swellendam plaasgevind.
Geen ander voertuie was betrokke nie.
Volgens kapt. Dewald Crous, waarnemende stasiebevelvoerder van Swellendam-polisie, word die ongeluk ondersoek.
Die ondersoekbeampte is speurder adjudant-offisier, Riaan Swanepoel.
'n Kollega van Peet Ruiters het hom verlede Saterdag in die Mediclinic Paarl besoek. "Peet is stabiel en sou hopelik Woensdag (gister) ontslaan word," het hy gesê.
Die familie het by navraag gesê hulle verkies om nie kommentaar te lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'