Die skade aan die luukse voertuie, 'n Hyundai iX35, Daihatsu Terios en Nissan Hardbody, beloop duisende en behoort aan die ander vrou, Chantelle Losper (30) se werkgewer, mnr. Gideon de Swardt (77), 'n sakeman van George. Chantelle werk al sewe jaar vir die De Swardts wat haar as 'n regte staatmaker beskryf.
'n Geskokte De Swardt het Dinsdag aan die George Herald gesê die drama het kort voor 08:00 begin terwyl hy, sy vrou en hul werknemers besig was met huisgodsdiens - iets wat hulle elke oggend doen voordat hulle met die dag se take begin.
Verskeie please call me's is na sy selfoon gestuur, gevolg deur oproepe van die verdagte.
"Sy het omtrent te kere gegaan oor die foon en my in die vieslikste kru taal uitgevloek. Hoekom weet ek nie, want ek ken haar nie. Ek het daarna vir Chantelle gevra om my bakkie onder die afdak uit te trek en het 'n vreeslike lawaai buite gehoor met Chantelle wat gil," vertel De Swardt.
Buite die De Swardts se huis in Witfonteinweg, Blanco moes hulle bontstaan toe die 18-jarige Sure London die klippe en halwe plavleistene na die voertuie geslinger het. Twee van die voertuie was binne die dubbelmotorhuis geparkeer.
Die De Swardts moes 'n geruime tyd wag voordat die polisie opgedaag en London in hegtenis geneem het.
London is Dinsdag vrygelaat nadat sy in die George-landdroshof verskyn op aanklag van opsetlike saakbeskadiging. Sy het skuld erken en is 'n R2 000-boete of 20 dae gevangenisstraf opgelê. Die vonnis is opgeskort vir drie jaar op voorwaarde dat sy haar in dié tydperk nie skuldig maak aan dieselfde misdryf nie.
Die familie is bekommerd dat die polisie hul klagtes oor die teistering deur London nie ernstig opneem nie, veral omdat sy ook doodsdreigemente teen die De Swardts maak.
"Vir 'n paar maande nou al maak sy dreigoproepe en maak dreigemente aan my ma en pa. Moet iemand eers leed aangedoen word? Ons het gevra dat hulle haar vir sielkundige evaluering stuur," het De Swardt se dogter, Wilma Rademan gesê.

'n Emosionele Chantelle Losper Maandagoggend saam met 'n kollega (links) en De Swardt (regs).
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'