Update
GEORGE NUUS - Misdaad in die middedorp floreer en dit is nie ongewoon om te hoor dat inwoners verkies om dié deel van George te vermy nie. Dit it is verál die gedrag van sommige karwagte wat deesdae kommer wek.
Op Dinsdag 20 Maart is Belinda Herselman (58) se motor skuins oorkant Ress en Van Zyl-apteek in Hiberniastraat klaarblyklik deur een van die "besope karwagte met 'n groen glimbaadjie" beskadig.
"Ek het die apteek besoek en toe ek terugkom en in my motor klim om te ry staan 'n karwag aan die bestuurderskant van my kar. Ek het hom nie geld gegee nie en toe ek wou ry slaan hy my motor se agterruit met sy vuis en vloek my," het haar inskrywing op die plaaslike Facebook-blad, Georgiete Staan Saam, gelui.
Aanranding voor Nedbank
In die mees onlangse geval is Lo Gerber (52) na bewering Vrydagmiddag, 23 Maart kort na 13:00 deur 'n karwag (43) in die parkeerarea voor Nedbank in Yorkstraat aangerand. Gerber was op pad huis toe na werk toe die voorval plaasgevind het.
"Ek het verby hom geloop toe hy vir my sê 'hallo skattie' en soentjies blaas. Ek het hom geïgnoreer en aangestap toe ek hom uit die hoek van my oog sien aankom.
"Hy het my aan die regterarm gegryp, my begin rondruk en aangedring dat ek vir hom geld gee. Ek het losgeruk waarna hy my linkerbors gegryp het," het sy aan die George Herald gesê.
Gerber het die man afgeweer waarna hy haar gelos het.
Volgens haar is dit nie die eerste keer wat sogenaamde karwagte onvanpaste aanmerkings teenoor haar maak nie.
Die volgende dag het sy 'n plasing van die insident op die Georgiete Staan Saam gemaak waarin die kommentaar van talle inwoners soortgelyke gevalle bevestig het.
"Nog twee dames en 'n man het Vrydag onder daardie 'karwag' deurgeloop. Ons het meer as 'n halfuur gewag vir hulp waarna Streeteyes Guarding ons te hulp gesnel het. Die verdagte het hom toe reeds uit die voete gemaak."
Karwagte oral in die dorp is besig om 'n kopseer vir inwoners te word.
Die verdagte is op Sondag 25 Maart in hegtenis geneem op 'n klag van aanranding. Hy is vrygelaat op 'n waarskuwing en sou in alle waarskynlikheid vandeesweek in die hof verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy verskyning nog nie bekend nie.
Gerber het ligte beserings aan haar nek en rug tydens die stoeiery opgedoen.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om sersant Merven Govender by 044 803 4715 te skakel.
Van die kommentaar op Gerber se plaasing op Georgiete Staan Saam.
Inwoners van George voel dat daar daadwerklik iets omtrent die karwag-probleem gedoen moet word.
Van kommentaar op Gerber se plasing op Georgiete Staan Saam kan afgelei word dat baie inwoners van George nie veilig in die middedorp voel nie.
Is daar 'n oplossing?
VF Plus-raadslid, Gert van Niekerk, sê sy party se pleidooi vir meer sigbare wetstoepassing word reeds vir maande deur die munisipaliteit afgelag. "Hier het ons 'n aanranding en 'n gewapende roof binne dae van mekaar af.
"Die situasie gaan net vererger tot dit glad nie meer veilig is om in ons middedorp te beweeg nie. Die munisipaliteit sal daadwerklik moet optree om meer sigbare wetstoepassing in die middedorp te kry. Ons wil George se strate veilig hê vir George se mense. Vir ons kinders," het hy aan die George Herald gesê.
Van die karwagte voor Nedbank is die afgelope Dinsdagmiddag deur wetstoepassingsbeamptes deursoek. Foto: Kristy Kolberg
Direkteur van beskermingsdienste, Steven Erasmus, sê die munisipaliteit het 'n beperkte mandaat om probleme rondom karwagte aan te spreek. "Waar daar kriminele aktiwiteite is, is dit die polisie se mandaat. Persone wat hulle as karwagte voordoen is self-aangestel of soms deur besighede aangestel en word nie deur die munisipaliteit beheer nie," sê hy.
"Munisipale Wetstoepassers is nie polisiebeamptes nie en kan slegs munisipale verordeninge toepas."
Volgens hom werk die munisipaliteit daaraan om die groter sosio-ekonomiese probleme rondom mense op straat aan te spreek deur verskeie programme.
'n Verslag sal binnekort voor die raad dien om 'n raamwerk vir publieke parkering in die middedorp aan te spreek wat verwante aspekte soos informele karwagte insluit.
Lees 'n vorige artikel: Vrou aangerand deur 'karwag'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'