GEORGE NUUSFLITS - 'n Plaaslike vrou (52) is na bewering Vrydagmiddag kort na 13:00 deur 'n karwag in die parkeerarea voor Nedbank in Yorkstraat aangerand.
Die slagoffer was op pad huis toe na werk toe die voorval plaasgevind het.
"Ek het verby hom geloop toe hy vir my sê 'hallo skattie' en vir my soentjies geblaas het. Ek het hom geïgnoreer en aangestap toe ek hom uit die hoek van my oog sien aankom.
"Hy het my aan die regterarm gegryp en begin rondruk. Ek het losgeruk toe gryp hy my linkerbors," het sy aan die George Herald gesê.
Die slagoffer het die man afgeweer waarna hy haar gelos het.
Volgens haar is dit nie die eerste keer wat sogenaamde karwagte onvanpaste aanmerkings teenoor haar maak nie.
Sy het daarna 'n plasing op die Facebook-groep, Georgiete Staan Saam, gemaak waarin die kommentaar van talle lede van die publiek soortgelyke gevalle bevestig het.
Die verdagte is intussen vasgetrek en vrygelaat op 'n waarskuwing. Hy sal in alle waarskynlikheid vandeesweek in die hof verskyn.
"Nog twee dames en 'n man, het Vrydag onder daardie 'karwag' deurgeloop. Ons het meer as 'n halfuur gewag vir hulp waarna Streeteyes Guarding ons te hulp gesnel het. Die verdagte het hom toe reeds uit die voete gemaak."
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die ondersoekbeampte, sersant Govender, by 044 803 4400 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'