GEORGE NUUS - Terwyl duisende vakansiegangers op strande in die George-munisipale gebied begin toesak, is daar steeds onduidelikheid oor die kontrakte van sommige lewensredders wat moet diens doen. Kommer bestaan dat daar moontlik nie genoeg wettige lewensredders aan diens sal wees as hul kontrakte nie in plek is nie.
'n Inwoner het die George Herald gekontak en kommer oor die situasie uitgespreek. Nadat die koerant navraag by die munisipaliteit gedoen het, het dit aan die lig gekom dat die kontrakte van 17 lewens-redders teen laat Dinsdagmiddag nog nie gefinaliseer was nie. Dit sou glo "binnekort" gebeur.
Ingeligtes het by navraag vertel dat die huidige situasie 'n lang aanloop het.
Tydens 'n vergadering in Oktober is besluit dat lewensredders hul vrywillige ure diens sal kan doen en van 1 Desember sal hulle by die ses aangewese plekke aan diens wees. Dit is drie strande by Wilderness, die strand by Victoriabaai, Heroldsbaai-strand, Gwaiing-strand en die swembad by Conville. Dit sou vir sewe dae per week plaasvind.
Die lewensredders is hoofsaaklik jongmense tussen die ouderdomme van 16 en 23 jaar. Hulle ontvang vergoeding. Eers moet hulle streng keuring slaag en daarna opleiding ondergaan.
Die Outeniqua Surf Lifesaving Club hanteer dit en stel dan die lewensredders aan die munisipaliteit beskikbaar wat die werkgewer is.
Volgens een van die ingeligtes het frustrasie die afgelope naweek 'n hoogtepunt onder lewensredders bereik omdat van hul kontrakte nog nie gefinaliseer was nie. Hulle het toe gaan diens doen by van die strande sonder dat hul kontrakte in plek was. Hulle het dit gedoen omdat hulle die see ken en bekommerd was oor die veiligheid van vakansiegangers.
Johann Crouse, George-munisipaliteit se hoof van brandweer en redding, het by navraag gesê daar is reeds 49 lewensredders by die ses strande wat onder die jurisdiksie van die George-munisipaliteit val.
"Finalisering van kontrakte vir nog 17 om die totaal tot by 66 te bring word binnekort verwag. Alhoewel die 49 genoegsaam is, is versterkings gedurende hoogseisoen ideaal."
Volgens hom is daar ook genoegsame toerusting. Die munisipaliteit spog hierdie jaar ook met 'n waterponie (jet ski) wat die strande sal bedien soos nodig – die stasionering daarvan word daagliks bepaal gebaseer op faktore wat weersomstandighede en seetoestande insluit.
Lees dié storie by www.georgeherald.com.
Die munisipaliteit het ook 'n goeie verhouding met die NSRI wat op Wilderness gestasioneer is en bespreek daagliks die situasie met hulle.
Freya Swanepoel, voorsitter van die Outeniqua Surf Lifesaving Club, het by navraag gesê sy is bewus van die situasie.
"Ek verstaan die frustrasie van die lewensredders. Van hulle kan nie werk nie omdat hul kontrakte nie in plek is nie. My hande is afgekap. Ons is nie die werkgewer nie." Sy het benadruk dat sy al die aangeleentheid by die munisipaliteit geopper het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'