Topleerders van 12 skole is in George by 'n spesiale funksie by die Protea Hotel King George met Werwingsbeurse van die Universiteit van Stellenbosch (US) verras.
Die leerders is almal vir 'n program aan die universiteit aanvaar en voldoen aan die vereistes van die Werwingsbeursprojek. Die beurs dek die volle onderrigkoste van enige graadprogram vir die minimum duur van die program tot 'n maksimum van vier jaar en waarborg die reservering van 'n plek in 'n koshuis.
Die skole wat verteenwoordig was, is George Sekondêr, Pacaltsdorp Sekondêr, Môrester Sekondêr, Bridgton Sekondêr, De Rust Sekondêr, Thembalethu Secondary School, Sao Bras Sekondêr, Beaufort-Wes Sekondêr, Kairos Sekondêr, Murray Sekondêr, Bastiaanse Sekondêr en Groot-Brakrivier Sekondêr.
Hope@Maties is 'n strategiese Skolevennootskapprojek waarin sowat 250 graad 12-leerders vanuit die Wes- en Suid-Kaap vakansieskole bywoon. Die topmatrikulante van skole word deur hulle skoolhoofde geïdentifiseer en by 'n gasskool in die area byeengebring. Hier word hulle op Saterdae in die kernvakke wiskunde, wetenskap en tale deur die beste onderwysers in die area onderrig.
Dr. Trevor van Louw, direkteur van die US se Sentrum vir Opvoedkundige Leierskap en -bestuur (SELEBOUS) en Ilze Gelderblom, adviseur vir die Sentrum vir Voornemende Studente, het die leerders en hul ouers tydens die funksie toegespreek.
Hope@Maties is 'n projek van die US se Sentrum vir Opvoedkundige Leierskap en -bestuur (SELEBOUS), die Sentrum vir Voornemende Studente (SVS), en Gemeenskapsinteraksie (GI). Skakel met dr. Trevor van Louw by 021 808 2923/4709 vir meer inligting.
_596744932.jpg)
Dr. Trevor van Louw (SELEBOUS), Lynthon Jacobs, (SELEBOUS), Ferren Le-vendal, Tarryn Rex, Noel Cornelius, Aiden Maree, Amy le Roux, Johnique de Reuck en dr. Lawrence Lottering, prinsipaal (almal van George Senior Sekondêr) en Ilze Gelderblom (Sentrum vir Voornemende Studente aan die Universiteit Stellenbosch). Voor kniel Bramley de Laan en Kaylin Jacobs, ook van George Senior Sekondêr.
Leerlinge van Pacaltsdorp Senior Sekondêr saam met van links: dr. Trevor van Louw van die Sentrum vir Opvoedkundige Leierskap en -bestuur (SELEBOUS) aan die Universiteit Stellenbosch (US), Lynthon Jacobs (SELEBOUS), Elgene Moos en Jeandre Roelf (albei van Pacaltsdorp Senior Sekondêr), Olivia du Plessis (adjunk-prinsipaal) en Ilze Gelderblom (Sentrum vir Voornemende Studente aan die US).
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'