GEORGE NUUS - Collette Rossouw, 'n gr. 1-onderwyser by George Voorbereidingskool, was uitgeboul toe sy hoor sy is aangewys as Solidariteit se Laerskoolonderwyser van die Jaar vir 2022.
Rossouw is op Woensdag 26 Oktober by haar skool met die nuus verras toe die adjunkhoofsekretaris: professioneel van Solidariteit die goeie nuus persoonlik vir haar gebring het.
"Ek kon dit nie glo nie. Net die dag vantevore het iemand my gevra of ek nog niks gehoor het nie. Ek het gedink dis al verby, want hulle het gesê die aankondiging sou in Oktober wees en ons is al byna by die einde van die maand."
Dit was 'n groot verrassing toe die skoolhoof, Lokkie Fourie, haar onder valse voorwendsels na buite roep en sy haar hele familie daar voor die skool se deur sien staan.
"Toe ek uitkom, sien ek my man en ek wonder waarom is hy dan daar, en toe ek om die hoek gaan, staan my ouers en my dogter daar. Dit was baie spesiaal. Ek het 'n koffieplunjer, heerlike koffie en skryfbehoeftes gekry, waaroor elke onderwyser mos maar mal is."
Op 6 Desember ontvang sy haar toekenning amptelik tydens 'n spesiale geleentheid van Solidariteit in Johannesburg. Die toekennings gee erkenning aan uitsonderlike onderwysers in kategorieë vir kleuterskole, laerskole en hoërskole.
Rossouw is al 22 jaar 'n onderwyser en het agt maande gelede by George Voorbereidingskool aangesluit.
"Wat 'n voorreg om elke dag my passie uit te leef," sê Rossouw. Sy kan nie wag om soggens by die skool te kom nie en probeer om elke kind wat deur haar hande gaan, spesiaal te laat voel en hulle emosioneel en sosiaal sterk genoeg te maak om die aanslae van die lewe te hanteer.
Wat haar die meeste bevrediging gee, is die positiewe verandering wat in die kinders by die skool plaasvind. "Hulle is bang en onseker op hul eerste skooldag; teen die middel van die skooljaar ontdooi hulle al bietjie meer, en teen die einde van die jaar is hulle vol selfvertroue. Om dit te sien, is die lekkerste gevoel wat daar is."
Sy sê die grootste uitdagings is vir haar om afstand te hou waar kinders of hul families baie swaar kry. "Dissipline is ook nie meer wat dit was nie omdat ouers so hard moet werk en nie baie tyd het nie, en dit is 'n uitdaging, maar die lekkerte van my beroep oorskadu die uitdagings by verre."
Haar man en dogter, Mario en Lara, en haar ouers, Peet en Ella Geldenhuys, is uiters trots op haar.
"Dit is eintlik 'n bittersoet oomblik, want my skoonma, Martie is in Julie oorlede. Sy en my skoonpa, Johan, albei onderwysers, het altyd in my geglo. Dit sou vir my skoonma baie beteken het. Ek dink sy glimlag nou af op my," sê Rossouw.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'