Volkspelers van so ver soos Kaapstad en Port Elizabeth het dit bygewoon.
Dit was ‘n heuglike viering veral omdat Tannie Greta Gericke, beskermvrou van die laer en lid sedert 1942, daar kon wees en kon meedoen deur uit volle bors saam te sing.
Sy het die laer gelukgewens en die vertroue uitgespreek dat hulle van krag tot krag sal gaan.
Frans Schutte, huidige onderleier, het met dankbaarheid genoem dat daar twee kinders van stigterslede teenwoordig is, naamlik hyself, seun van wyle mnr. Schutte, en Karen Temmingh, dogter van wyle Burger Gericke (Tannie Gericke se eggenoot).
Die Gericke-familie was van dóérie tyd sinoniem met volkspele.
Die Eendraglaer het deur die jare deel gehad aan groot feeste, onder andere die inwyding van die Voortrekkermonument (1949), die Van Riebeeckfees (1952), die Wonder van Afrikaans (1959), Uniefees (1960), en die 10-jarige viering van die RSA.
Hierdie en ander optredes was onder leiding van Oom Burger Gericke van Die Bof wat hom met groot entoesiasme gewy het aan die opdieping, ontwikkeling en bewaring van Afrikaanse volkskultuur, veral die spele en die liedere.
Opgeteken
Meer as twintig spele in die huidige volkspelehandleiding is uit Outeniqualand afkomstig. Oom Burger het die meeste hiervan opgeteken, baie met die hulp van Tannie Anna Stroebel, ‘n dogter van oom Lang-Faan de Swardt.
Heelwat liedjies het in hierdie familie ontstaan - of is deur hulle uit vroeër jare onthou.
Ander wat oom Burger bygestaan het met hierdie bewaringswerk was Henk van Eck, PJ Lemmer, Bettie Niehaus, Dalene Brits en familielede soos tannie Greta, Mariëtta Gericke, Elisabeth Potgieter en Karen en Roelof Temmingh.
Vanaf die tagtigerjare het baie kultuurorganisasies begin swaarkry. Mense wil hul tyd glo eerder met tegnologiese "wonders" deurbring. Die Eendraglaer hou egter steeds vol met wat die Volkspelebeweging aan Afrikaners bied.
Vanjaar het lede van die laer reeds verskeie optredes by ouetehuise gedoen; ’n bekendstelling by die Afrikaanse Taalraad se Taaldag; die aanbied van ‘n volkspelekursus, bywoon van saamtrekke asook deelname aan die streeksvolksangfees. "Die Beweging se filosofie is steeds om jou liefde te rig op God, jou land, jou volkseie kultuur, jou taal, en jou medemens," vertel Karen Temmingh.
Navrae oor die beweging en die laer kan gerig word aan die laerleidster, Isabel, by 082 374 6777, of Karen (ondervoorsitter van die streek) by 044 874 4904.
.jpg)
‘n Toekenning het Fred Coen (voor) te beurt geval ná 50 jaar as ‘n Volkspelelid. Hy word gelukgewens deur Bettie Niehaus - streeksvoorsitter van die Eendrag-volkspelelaer. By hulle is Mareta Strydom, André van Heerden en Isabel Fischer, laerleidster (regs).