Die afgelope week is daar weer twee voetgangers - binne 15 minute van mekaar - tragies dood en 'n hoërskoolleerder is in 'n kritieke toestand nadat sy Dinsdagoggend op die N2-snelweg raakgery is.
Thandokazi Mzinzili (15) van Thembalethu het ernstige hoofbeserings opgedoen en 'n been gebreek nadat sy op pad skool toe na bewering voor 'n aankomende motor ingehardloop het. Die gr.9-leerder van Parkdene Sekondêr en nog maats het langs die hoofweg gestaan en wou die pad oorsteek. Sy het oorgehardloop en voor 'n voertuig van die plaaslike onderwysdepartement beland wat in die rigting van Pacaltsdorp gery het.
Paramedici van Metro-nooddienste het haar op die toneel gestabiliseer en na die George-hospitaal geneem.
Nadia Ferreira, die woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het gister gesê Thandokazi is steeds in die hoësorgeenheid in 'n kritieke toestand.
Thandokazi se drie geskokte maats is na die traumakamer van die Thembalethu-polisie geneem waar Famsa berading aan die leerders gegee het.
Verlede Donderdag is twee voetgangers in aparte voorvalle binne minute in die berugte Sandkraalweg en op die snelweg doodgery.
Mnr. Henry Julies (63) van Parkdene is by die verkeerslig by Huis Outenikwa deur 'n polisievoertuig raakgery. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Volgens kapt. Elsa Gerber, die Conville-polisie kommunikasiebeampte, het Julies na bewering voor die polisievoertuig, wat op pad was na Thembalethu, ingehardloop.
Minute later het Benjamin Wayne Fortuin (21) van Parkdene grusaam gesterf toe hy deur 'n minibustaxi, wat in die rigting na die Garden Route Mall gery het, getref is. Die taxibestuurder het na bewering 'n ander voertuig verbygesteek en terwyl hy terug beweeg het na die linkerbaan het hy 'n harde slag gehoor. Dit was glo eers toe hy in sy truspieëltjie kyk, dat hy gesien het hy het iemand omgery.
Die taxibestuurder is vir bloedtoetse na die hospitaal geneem en hy word aangekla van dronkbestuur en strafbare manslag.
Dit is in die stadium onduidelik of Fortuin die snelweg probeer oorsteek het. Gerugte dat hy uit 'n bewegende motor geval het, kon nie bevestig word nie.
Die polisie het 'n beroep gedoen op enige ooggetuies van die ongelukke om die Conville-speurders te kontak by 044 803 3300.
Talle voetgangers in Sandkraalweg en op die snelweg, waarvan talle jong kinders is, se lewens is al geëis wanneer hulle die pad oorsteek. Sandkraalweg ervaar daagliks hoë volumes verkeer en voetgangers beweeg deurentyd heen en weer oor die pad na winkels. Dit blyk dat daar wetteloosheid van beide voertuie en voetgangers is.
Mense wat kommentaar op die George Herald se Facebook-blad lewer meen dat motoriste meer bedag moet wees op voetgangers, veral op die snelweg en in Sandkraalweg. Aan die anderkant behoort voetgangers ook versigtiger te wees en moet hulle verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar. Hulle voel die opvoeding van voetgangers is ook nodig.
Daar is drie brûe op die snelweg tussen Pacaltsdorp en die Garden Route Mall, maar baie voetgangers verkies om kortpad oor die snelweg te vat.
Die verkeershoof, mnr. Mark Green het vroeër gesê hulle is bekommerd oor die situasie in Sandkraalweg.
Die George-verkeersafdeling is besig met 'n omvattende ondersoek na die moontlike faktore wat bydra tot die ongelukke in Sandkraalweg en elders en sal in oorlegpleging met die provinsiale verkeer en ander rolspelers die probleemareas aanspreek.
"Intussen het die verkeer hul sigbaarheid en spoedbeheer verskerp en fokus hulle op die gedrag van voetgangers en is die ondersoeke na die padwaardigheid van voertuie verhoog," het Green gesê.
* Two pedestrians were killed in accidents on roads in George this past week and a 15-year-old girl is in a critical condition after she allegedly ran into an oncoming car on the N2 Highway on her way to school Tuesday morning.
Paramedici stabiliseer Thandokazi op die toneel.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuuste George | Tuinroete nuus'