Update
GEORGE NUUS - 'n Vrou van Blanco, Annamarie Claasen (52), se lewe het skielik tot 'n einde gekom toe sy op Saterdag 1 Maart deur 'n motor getref en noodlottig beseer is.
Sy het in 'n huis naby Step Aside Conference Venue and Accommodation gewoon en was op pad werk toe toe die ongeluk plaasgevind het.
Die voorval het op die brug op die N9 (Outeniquapas) naby Step Aside gebeur. Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n dossier vir strafbare manslag geopen na aanleiding van die insident wat omstreeks 10:00 plaasgevind het.
Nooddienste het vinnig gereageer, maar die slagoffer het veelvuldige beserings opgedoen. Sy is hospitaal toe geneem, maar is later dood verklaar. Die ondersoek na die voorval duur voort.
Plaaslike inwoners is diep ontsteld oor die ongeluk en sê hierdie spesifieke deel van die pad het uiters gevaarlik vir voetgangers geword.
"Motoriste jaag teen 'n hoë spoed teen die bult af en om die draai. Iets moet gedoen word voordat ons nog 'n lewe verloor," het 'n inwoner, Samuel Crowley, gesê.
Volgens hom is dit reeds die vyfde voetganger wat op hierdie presiese plek die afgelope twee of drie jaar gesterf het. Hy het 'n beroep op die owerhede gedoen om veiligheidsmaatreëls soos spoedbeperkende verkeerstekens of waarskuwingsborde vir voetgangers te implementeer.
George Herald het die oorledene se familie vir kommentaar genader, maar hulle het weens die traumatiese tydperk verkies om nie op hierdie stadium iets te sê nie.
Previous articles:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’