Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Vier plakkershutte is Dinsdagmiddag in 'n brand in Rosedale, Pacaltsdorp verwoes en nog twee erg beskadig. 'n Kragpaal is ook beskadig.
Met die George Herald se aankoms op die toneel het tientalle inwoners magteloos rondgestaan terwyl jong mans bo-op die dakke van huise rondom die brandende hutte die brand met groot emmers water probeer blus het. Brandweermanne van George het die brand grondlangs bestry.
Carol-Anne Mingo (30), een van vroue wie se hut in puin gelê is, het onrustig geraak toe sy sien daar kom rook aan die agterkant van haar buurvrou Julie Pretorius, se huis uit.
"Ek het na Aunt Julie se vriendin gestap by wie sy altyd 'n sleutel los om te gaan vra dat hulle kom kyk wat die rook veroorsaak. Toe ek weer sien, was die vlamme oral. Ek het teruggehardloop na my plek waar my dogtertjie gelê en slaap het. Ek het net my kind gegryp en gehardloop." Die vlamme het te vinnig versprei en sy kon niks van haar besittings red nie.
Die meeste van die mense wie se huise in die slag gebly het, was by die werk toe die brand uitgebreek het. Bure en ander inwoners het probeer om van hul huisraad uit te dra, maar kon min red omdat die vlamme vinnig versprei het.
Dit is onduidelik hoe die brand ontstaan het.
Chantel Edwards-Klose, die munisipale woordvoerder, het gister bevestig dat 13 mense dakloos gelaat is. Niemand is tydens die voorval beseer nie. "Daar is intussen tydelike huisvesting in die gemeenskapsaal gereël vir die inwoners wat deur die brand geraak is," het sy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Munisipale beamptes het na die brand geblus is, die geaffekteerdes se besonderhede geneem. Beamptes van grondbestuur is ook laatmiddag op die toneel opgemerk. Tussentydse blyplekke sal binnekort opgerig word.
Virgill Gericke van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) het Dinsdagaand deur 'n klankgreep op sosiale media 'n beroep gedoen op inwoners en plaaslike besighede vir skenkings. 'n Plaaslike skool, die George Lionsklub en Wimpy in Yorkstraat het reeds skenkings van klere, komberse en kos gemaak.
'n Aantal dapper mans het die verskroeiende hitte en rook getrotseer deur bo-op omringende huise se dakke te klim vanwaar hulle met emmers water gekeer het dat die vlamme verder versprei.
* Four informal structures were gutted in a fire in Rosedale's informal settlement Tuesday afternoon. Two more were badly damaged.
Lees 'n vorige artikel: Brand in Rosedale
Lees redakteur, Lizette da Silva, se kolom oor die brand hier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'